Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Scarlets laat Cheetahs bloos in Wallis
Benhard Janse van Rensburg op pad doellyn toe vir die Cheetahs, met ’n verdediger van Scarlets wat tevergeefs probeer keer.Foto: Gallo Images

As die Cheetahs gaan verdedig soos aanvanklik in hul Pro14-wedstryd teen die Scarlets Sondag in Llanelli, kan hulle maar daarvan vergeet om dié seisoen weer ’n wedstryd te wen.

Hul swak keerwerk in die eerste 19 minute het daartoe gelei dat die Scarlets vier drieë ingeryg en uiteindelik maklik met 43-21 geseëvier het.

Die wenspan, wat met rustyd met 28-14 voor was, het ses drieë teenoor die drie van die Cheetahs gedruk.

Behalwe vir hul swak verdediging aan die begin was die Cheetahs se skrumwerk ook teleurstellend met tye, ’n afdeling waarin hulle gewoonlik die botoon voer.

Die agtsteman Uzair Cassiem, ’n oud-Cheetah, het die Scarlets se eerste drie gedruk, waarna die vleuel Johnny McNicholl, die senter Kieron Fonotia en die flank Josh Mcleod, in ’n japtrap die wind uit die Cheetahs se seile gehaal het.

Cassiem het ’n uitstekende wedstryd beleef.

Die Cheetahs kon egter asemhaal toe McNicholl in die 22ste minuut, ná hy bal met opset by ’n losgemaal afgeklap het, ’n geelkaart gekry het.

Die Cheetahs se buitesenter Benhard Janse van Rensburg het met hom van die veld af toegeslaan vir sy span se eerste drie.

Hy het pas teruggekeer van harsingskudding en daar is gevrees hy is weer beseer toe daar op hom geval is nadat hy oorgeduik het. Die voorval is ondanks die senter se protes ongestraf gelaat.

Die voorste driedrukker van die reeks, Rabs Maxwane, het die Cheetahs se tydelike oplewing met sy 12de drie vanjaar voortgesit.

Hy het ’n bisarre beweging afgerond. Die flank Abongile Nonkontwana kon nie hand by die bal kry nie en het die vleuel met ’n skop in besit gestel wat ’n sokkerspeler trots sou gemaak het. Maxwane het dit netjies opgepik en oorgeduik.

Die agtsteman Gerhard Olivier het in die tweede helfte gaan druk nadat die losskakel Tian Schoeman met ’n goeie lopie vergoed het vir die paar blapse wat hy met skoen begaan het.

Hy het ’n keer met ’n strafskop nie die bal uitgeskop nie, terwyl twee van sy afskoppe oor die doodlyn is.

McNicholl het kort voor die einde onderskep om die senter Paul Asquith weg te stuur vir die Scarlets se sesde drie.

* Puntemakers:

Scarlets: 43 (28): Drieë: Uzair Cassiem, Johnny McNicholl, Kieron Fonotia, Josh Macleod, Wyn Jones, Paul Asquith. Doelskoppe: Dan Jones, Leigh Halfpenny (4). Strafdoele: Halfpenny.

Cheetahs 21 (14): Drieë: Benhard Janse van Rensburg, Rabs Maxwane, Gerhard Olivier. Doelskoppe: Tian Schoeman (3).


Meer oor:  Scarlets  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Uzair Cassiem  |  Benhard Janse Van Rensburg  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.