Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Scarlets wys Blommetjies die deur

Hy was teleurgesteld toe hy die tyding kry dat die Scarlets sy kontrak voortydig beëindig het, maar het daarmee vrede gemaak, het die heelagter Clayton Blommetjies vandeesweek onthul.

Clayton Blommetjies, vroeër vanjaar in aksie vir die Leicester Tigers in die Engelse Premierliga. Foto: Getty Images

“Ek het my werk gedoen, ek het gedoen wat hulle van my gevra het. Hulle gaan die jaar wat daar van my kontrak oor is, uitbetaal, maar my agent is besig om vir my elders plek te soek,” het Blommetjies in Bloemfontein gesê waar hy en sy gesin na die Cravenweek-toernooi kom kyk het.

Hy was die afgelope seisoen in slegs ses Pro14-wedstryde vir die Scarlets, ’n Walliese span, in aksie waarna hy aan die Leicester Tigers in die Engelse Premierliga geleen is.

Hy sou aanvanklik op 22 Junie teruggekeer het Llanelli toe en hom op 24 Junie by die Scarlets aangesluit het, maar hy en sy gesin het toe nooit op ’n vliegtuig terug Wallis toe geklim nie. Sy agent, James Adams, het hom van die Scarlets se besluit verwittig.

“Ek was hartseer toe ek die slegte nuus ’n paar dae gelede hoor. Dit het seergemaak, maar die Here weet wat vorentoe op my pad is. Ek wag nou geduldig tot my agent vir my iets kry,” vertel die gewese Cheetahs-heelagter.

In September verlede jaar het dit aan die lig gekom dat Blommetjies en die Scarlets se afrigter, Wayne Pivac, nie langs dieselfde vuur sit nie.

Pivac het Blommetjies se fiksheid bevraagteken en hy is summier uit die Pro14-groep gelaat en moes klubrugby vir Llanelli speel.

“Dis ’n aanpassingstydperk vir Clayton en ons het gevra dat hy aan sy kondisionering moet werk. Hy is gevra om bykomende werk te doen om meer wedstrydskerp te word. Ons doen dinge anders as die Cheetahs en die verwagting van die spelers is om ’n sekere peil te handhaaf en Clayton het werk nodig,” het Pivac destyds aan walesonline.com gesê.

Blommetjies glo egter die Scarlets-terugslag gaan van hom ’n sterker mens maak.

Vroeë praatjies is dat sy kop Japan toe staan, maar daaroor lag hy net.

“Almal gaan mos deesdae Japan toe, en dit seker wat almal glo van my ook, maar ek wag eerlikwaar nog om enigiets te hoor.”

Hy draai egter geen doekies om oor waar hy sy brood en botter wil verdien nie – oorsee.

“As jy eers die gevoel buite Suid-Afrika gekry het dan weet jy dis waar jy wil wees, want deesdae gaan alles oor geld. Ek gaan egter nie blindelings besluite neem nie.

“As my agent iets buite Suid-Afrika kry, sal ek dit weer geniet soos by die Scarlets. My vrou en my kind het dit ook daar geniet en dit was vir hulle net so hartseer om te hoor dat ons nie teruggaan nie.”

Hy sê die feit dat die Scarlets sy kontrak beëindig het, is vir hom ’n aanduiding dat hy in die toekoms nog harder sal moet werk.

Meer oor:  Scarlets  |  Pro14  |  Clayton Blommetjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.