Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Scarra Ntubeni se rooi kaart geskrap

Die rooi kaart wat Scarra Ntubeni, haker van die Westelike Provinsie, in die afgelope naweek se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Blou Bulle gekry het, is van sy dissiplinêre rekord geskrap.

Ntubeni is enkele minute voor die rustyd afgestuur vir ’n hoogvat op die Bulle se Zak Burger, maar die versagtende faktor wat toe nie in aanmerking geneem is nie, is dat die Pretorianers se skrumskakel gebuk het kort voordat hy deur die WP-haker getref is. Die Bulle het die wedstryd uiteindelik met 34-13 gewen.

“Ons is baie bly daaroor (dat die kaart van die rekord geskrap is), maar terselfdertyd is die skade reeds aangerig,” het Rito Hlungwani, die WP se voorspelerafrigter, Dinsdag gesê.

Die rooi kaart wat Scarra Ntubeni verlede week in die Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle gekry het, is van sy dissiplinêre rekord gewis. Foto: Gallo Images

“Ons is natuurlik altyd bly om vir Scarra beskikbaar te hê. Dis net jammer dat ons vir só lank met 14 spelers moes speel.”

Die WP was voor Ntubeni se rooi kaart met 13-17 agter. Daar was boonop vyf minute ná rustyd nog teenspoed vir die WP toe daar beslis is dat Evan Roos die bal vorentoe verloor het terwyl hy gepoog het om dit agter die doellyn te plant. Inderwaarheid is die bal uit sy hand uit geskop.

“Dit was ’n moeilike een om te verwerk, want ons het gevoel dit was taamlik duidelik dat die bal uit sy hande geskop is. Soms gaan beslissings jou kant toe en ander kere nie. Dis egter iets wat ons baie seergemaak het.”

Of die WP die wedstryd sou gewen het indien Ntubeni nie die trekpas gekry het nie, kan natuurlik nie bo alle twyfel gesê word nie. Van daardie oomblik af was die koeël egter deur die kerk vir ’n span wat besig was om sy vierde wedstryd binne twee weke te speel.

Behalwe vir die goeie nuus oor Ntubeni, sê Hlungwani dat Ernst van Rhyn, kaptein, van ’n besering herstel het en Saterdag op Nuweland teen die Vrystaat-Cheetahs sal kan speel.

Die Springbok-heelagter Warrick Gelant kan moontlik ook ’n terugkeer van ’n langtermyn-kniebesering maak, wat groot verligting sal bring omdat die WP vir ’n hele ruk al met ’n vleuel, Sergeal Petersen, in die laaste vesting speel.

Of Gelant in die beginspan of op die plaasvervangersbank gaan wees, is ’n vraag wat Vrydag met die spanaankondiging eers beantwoord sal word. Behalwe vir sy deugde op die aanval, sal hy die WP se taktiese skopwerk aansienlik opskerp.

Die WP het ook die Ikey-skrumskakel William Rose betrek om meer diepte in dié posisie te kry. Paul de Wet is tans die senior skrumskakel in die span en daar sal in die Springbok Herschel Jantjies se afwesigheid indringend daarna gekyk moet word om nóg ’n bekwame speler agter die oond te kry met die oog op die Verenigde Rugbykampioenskap.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Wp  |  Scarra Ntubeni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.