Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Scarra se rooi kaart kelder die WP

Ná net 45 sekondes, met Paul de Wet wat onder die pale afgerond het, het die Westelike Provinsie se ondersteuners Vrydagaand seker lugkastele begin bou oor ’n moontlike Curriebeker-oorwinning oor die Blou Bulle op Nuweland.

Daar’s geen pad deur die Blou Bulle se verdediging vir die Westelike Provinsie se Neethling Fouché nie in Vrydagaand se Curriebeker-wedstryd op Nuweland. Foto: Gallo Images

Helaas was die Kapenaars se doppie vier minute voor die rustyd reeds geklink toe hulle Springbok-haker, Scarra Ntubeni, op die TV-skeidsregter, Egon Seconds, se aanbeveling ’n rooi kaart gekry het vir ’n hoogvat. Die Bulle het met 34-13 gewen.

Of die voorval ’n rooi kaart regverdig het, is die debat wat seker oor die volgende 24 uur sal woed, maar teen daardie tyd het die Bulle se voorspelers, en Johan Goosen agter hulle, reeds begin stem dik maak.

Selfs al het die Streeptruie 15 spelers op die veld gehad, sou hulle waarskynlik aan die verloorkant gewees het.

Die Bulle moes ook nie hard werk vir hul drieë in die eerste helfte nie.

Vir Richard Kriel s’n is die WP se verdediging verspot maklik geklop met ’n lang aangee deur Goosen, terwyl die tweede, deur ’n puik Johan Grobbelaar, op ’n skinkbord gegee is met Ntubeni se ingooi bo-oor sy springers in die lynstaan.

Jake White (afrigter) se span kon met die rustyd maklik verder voor gewees het, maar die goeie werk is dikwels deur foute ongedaan gemaak.

Die Bulle was binne die eerste minuut van die tweede helfte reeds op die aanval, maar die WP se besige baljagter, Nama Xaba, het die aanslag voor die doellyn afgeweer.

Die Bulle se voorspelers het egter hul ritme gevind en aanval ná aanval geloods voordat Zak Burger ’n halfuur voor die einde hul voorsprong laat rek het.

Evan Roos het sy bes probeer, maar die Westelike Provinsie se voorspelers het Vrydagaand op Nuweland hulle rieme styfgeloop teen die Blou Bulle se agttal. Foto: Gallo Images

Evan Roos het vyf minute voor dit naby daaraan gekom om die WP teen die verloop van spel die voorsprong te gee, maar die bal onder druk van Marcell Coetzee oor die doellyn vorentoe verloor.

As die Bulle aan enigiets skuldig is, is dit slordigheid. Hulle moes verder gewen het. Dan weer het die WP in Ntubeni se afwesigheid nie boedel oorgegee nie. Die Kaapse spelers verdien darem krediet hiervoor.

Die werklikheid vir die WP is egter dat hy man vir man nie die Bulle se gelyke was nie. John Dobson, die Streeptruie se afrigter, het nie die luuksheid om vir hom soos die Bulle spelskeppers van wêreldgehalte – spelers soos Coetzee en Goosen – aan te skaf nie.

Cornal Hendricks het vyf minute voor die einde die Bulle se bonuspunt verseël.

Daar was vindingrykheid op die aanval voor hy die tuisspan verdediging maklik met ’n fopaangee doellyn toe geflous het.

Dít het dit ’n baie produktiewe aand vir die Bulle gemaak en ook ’n hartseer aand vir die WP. ’n Laaste kans op ’n laaste oorwinning op Nuweland is nie aangegryp nie, wat uit ’n Kaapse perspektief ’n jammerte is.

Puntemakers: Blou Bulle 34 (17): Drieë: Richard Kriel, Johan Grobbelaar, Zak Burger, Cornal Hendricks. Doelskoppe: Johan Goosen (4), Chris Smith. Strafdoele: Goosen (2).

Westelike Provinsie 13 (13): Drie: Paul de Wet. Doelskop: Tim Swiel. Strafdoele: Swiel (2).

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Westelike Provinsie  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.