Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Schalk Brits kom storm weer in Kaap
Schalk BritsFoto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie het glo die toutrekkery om die dienste van die Springbok-haker Schalk Brits gewen.

Terwyl dit nie amptelik bekend gemaak is nie, het Netwerk24 op goeie gesag verneem dat Brits aanstaande jaar vir die Stormers in die Superrugby-reeks gaan speel. Hy is ook deur die Blou Bulle die hof gemaak.

Brits (37) het aanvanklik uitgetree nadat Saracens in Mei die Engelse Premierliga gewen het, maar is gedurende Junie se toetsreeks teen Engeland deur die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, oorreed om aan te hou speel.

Sedertdien het Brits uitstel op sy internskap by die sakereus Remgro gekry om tot aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan deur te druk op die rugbyveld.

Daar is boonop Dinsdag aangekondig dat Brits op 1 Desember op Twickenham vir die Barbarians teen ’n Argentynse vyftiental gaan speel. Die Baabaas gaan deur Erasmus afgerig word.

Volgens Brits is sy kondisionering nou beter as toe hy vroeër vanjaar nog vir Saracens gespeel het.

Jy kry die geleentheid om jou skete behoorlik af te skud. Ek voel fantasties en kan nie wag om weer te speel nie.
Schalk Brits

“Jy kry die geleentheid om jou skete behoorlik af te skud. Ek voel fantasties en kan nie wag om weer te speel nie,” sê hy luidens ’n berig op die Barbarians se webtuiste.

“’n Vriend het onlangs vir my gesê ‘wat is die verskil tussen 37 en 38 jaar oud wees?’. Dis ’n wonderlike geleentheid en eer wanneer jy vir die Bokke speel, so ek gaan my bes doen om ’n aanspraakmaker te wees.”

Bongi Mbonambi (Gallo Images)

’n Terugkeer na die Stormers, vir wie hy in 2006 vir die eerste keer gespeel het, sal ’n goeie skuif vir Brits se doeleindes wees. Bongi Mbonambi sal die Kapenaars se voorkeurhaker bly, maar dit sal nie vir Brits ’n probleem wees nie omdat die rol van impakspeler hom in hierdie tydstip beter pas as om in elke wedstryd op te draf.

Brits kan selfs ook as ’n losvoorspeler ingespan word indien die nood druk.

Indien sy skuif Kaap toe amptelik bevestig word, sal dit die derde keer wees dat Brits ’n kontrak met die WP sluit.

Hy het die WP in 2004 vir die Goue Leeus verruil nadat hy vroeg in sy loopbaan in die Kaap nie na waarde geskat was nie. Ná twee puik seisoene in Johannesburg is Brits egter terug WP toe gelok voordat hy in 2009 by Saracens aangesluit het.

In Engeland word Brits beskou as een van die beste “invoerprodukte” wat tot nog toe in hul liga gespeel het. Sy ongelooflike balvaardighede is amper ongeëwenaard.

Brits sal deur die loop van aanstaande jaar se Superreeks sy 38ste verjaarsdag vier en dit sal vir hom ’n uitstekende geleentheid wees om te sien of hy ’n Wêreldbeker in hom het.

Brits is ’n sterk leier en is bitter selde sonder ’n glimlag.

Behalwe vir die impak wat Brits op die speelveld kan maak, is hy vir enige span ’n yslike aanwins in terme van spankultuur. Brits is ’n sterk leier en is bitter selde sonder ’n glimlag.

Die WP moes ook ’n plan op haker maak nadat Ramone Samuels ’n ernstige kniebesering opgedoen het. Mbonambi, Brits en Scarra Ntubeni behoort die Kapenaars te kan deurdra.

Meer oor:  Schalk Brits  |  Bongi Mbonambi  |  Kaapstad  |  Rugby  |  Superrugby  |  Bokke  |  Stormers  |  Saracens  |  Wp  |  Haker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.