Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Schalk lei, maar Siya is WB-kaptein
Schalk Brits sal Saterdag die Springbokke teen die Poemas op Loftus Versfeld aanvoer. Foto: Gallo Images

Sowat 80%.

Dít is hoe naby Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, daaraan is om sy groep van 31 vir die Wêreldbeker-toernooi te finaliseer.

Kortom beteken dit daar is waarskynlik verskeie spelers in die “nuwe” Bokspan wat Erasmus gekies het vir Saterdag se toets teen Argentinië, wat een sterk vertoning weg is van ’n vliegtuigkaartjie Japan toe.

“Dit (die 80%) is ook in terme van die samestelling van die groep. Gaan ons byvoorbeeld vier slotte en vyf losvoorspelers en vyf of ses stutte saamvat?

“Ons het dit aan die spelers verduidelik en almal weet wat die stand van sake is. Dit is taai, want jy kan net 31 spelers kies en ons het nie baie beserings gehad nie.

“Daar is ’n paar posisies waar spelers om ’n plek wedywer,” het Erasmus gesê.

’n Heel nuwe beginspan sal Saterdag teen die Poemas speel en dit sluit onder meer die terugkeer van die kaptein, Siya Kolisi, in.

Erasmus het besluit om hom nie met die kapteinskap op te saal nie en die 38-jarige haker Schalk Brits sal die Bokke aanvoer.

“Ons sal Siya versigtig terugbring en hy gaan beslis nie 80 minute speel nie. Soos almal weet, is ons desperaat om hom WB-toernooi toe te vat.

Dit maak daarom meer sin om ’n ander kaptein te kies. Schalk is verreweg die mees senior ou in die groep en sy ervaring sal baie waardevol wees in ’n span wat heelwat jong spelers het.
Rassie Erasmus

“Die besluit is tweeledig. Ek wil hê hy moet fokus op sy spel en ook, ons mag hom selfs voor rustyd afhaal as ons gesien het wat ons wou sien.

“Dit maak daarom meer sin om ’n ander kaptein te kies. Schalk is verreweg die mees senior ou in die groep en sy ervaring sal baie waardevol wees in ’n span wat heelwat jong spelers het.”

Rassie Erasmus

Erasmus het dit opnuut duidelik gestel dat Kolisi Suid-Afrika in Japan sal lei, tensy dit nie “medies moontlik” is nie.

“Dit is ’n kwessie van om hom fiks, skerp en op Springbok-vlak te kry.

“Die laaste ding wat jy wil doen, is om iemand in die eerste wedstryd teen die All Blacks te laat speel wat nie 100% vertroue het, fiks en op peil is nie.”

Erasmus het gesê hy sal dit verkies dat sy kaptein in die eerste groepwedstryd teen die Kiwi’s kan speel.

Maar hy sal beslis nie oorhaastig wees met Kolisi nie, verseker hy.

“Dit sal sleg wees as jou kaptein teen die All Blacks uitdraf en jy weet jy moet hom bestuur vir 50 minute, want ons besef hoe belangrik daardie wedstryd sal wees.

“Die voordeel van sy besering, as jy só ’n voordeel kry, is dat ons ander spelers in sekere rolle kon laat groei en meer wys geword het van ander spelers in leierskapsposisies.”

Die voordeel van sy besering, as jy só ’n voordeel kry, is dat ons ander spelers in sekere rolle kon laat groei en meer wys geword het van ander spelers in leierskapsposisies.
Rassie Erasmus

Met Kolisi die oopkant-flank is Marcell Coetzee op agtsteman gekies – die eerste keer dat hy sedert 2015 vir die Bokke begin.

Hoewel die Haaie-stut Thomas du Toit Saterdag in sy tiende toets sal speel, is dit sy eerste in die opdrafspan.

Die plan was dat Herschel Jantjies die plaasvervanger-skrumskakel sal wees, maar hy het Dinsdag ’n harde stamp teen die kop gekry in ’n oefening en Faf de Klerk vervang hom.

Cobus Reinach, wat self laas in 2014 op die Bokke se jaareindtoer in die beginspan was, kry sy groot kans om indruk te maak in die nr. 9-trui.

Erasmus het grotendeels dieselfde agterlyn gekies wat verlede maand op Ellispark teen Australië gespeel het.

Die Springbokspan is:
Warrick Gelant, S’bu Nkosi, Jesse Kriel, André Esterhuizen, Dillyn Leyds, Elton Jantjies, Cobus Reinach, Marcell Coetzee, Rynhardt Elstadt, Siya Kolisi, Lood de Jager, RG Snyman, Vincent Koch, Schalk Brits (k), Thomas du Toit. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Lizo Gqoboka, Wilco Louw, Marvin Orie, Marco van Staden, Kwagga Smith, Faf de Klerk, Frans Steyn.
 
Meer oor:  Siya Kolisi  |  Pretoria  |  Kaptein  |  Toets  |  Afrigter  |  Rugby  |  Poemas  |  Haker  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.