Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Schalk: SA rugby se heil lê in Noorde

Schalk Brits, lid van die Springbokke se seëvierende Wêreldbeker-groep in 2019, glo die heil van Suid-Afrikaanse rugby lê in die Noordelike Halfrond.

Die 38-jarige haker, wat sy uittrede uit die spel in 2018 op die lange baan geskuif het sodat hy vir oulaas sy gewig by die Bokke kon ingooi, het die uitspraak in sy hoedanigheid as ’n Laureus-ambassadeur gemaak, berig Sport24.co.za.

Dié sport-liefdadigheidstigting maak in Februarie op ’n glansgeleentheid in Berlyn die wenners van sy jaarlikse sporttoekennings bekend.

Schalk Brits, lid van die Springbokke se triomfantelike 2019 Wêreldbeker-groep glo Suid-Afrikaanse rugby moet noordwaarts kyk. Foto: Getty Images

Brits grond sy mening op die feit dat daar die laaste jare ’n dramatiese uittog van top-Bokke na die Noordelike Halfrond was, terwyl die gewildheid van die Superrugby-reeks in die Suidelike Halfrond al meer taan.

Suid-Afrika se Superspanne het ná die 2019-seisoen weer kwaai deurgeloop en veral die Bulle en Haaie het ’n groot groep van hul voorste spelers aan klubs in Engeland, Frankryk en Japan afgestaan.

Brits, wat die Stormers in 2009 verlaat en ’n hoogs suksesvolle loopbaan by Saracens in die Engelse Premierliga gebou het, glo dit sal voordele vir SA franchises inhou om aan Europese kompetisies deel te neem.

Twee van hulle, die Cheetahs en Southern Kings, neem reeds aan die Pro14-reeks deel.

“Toe ek Suid-Afrika in 2009 verlaat het, dink ek daar was elke week gemiddeld 40 000 toeskouers by Nuweland (vir Stormers-wedstryde),” sê Brits.

“Toe ek teruggekeer het (in 2019, toe hy vir die Bulle gespeel het), was ek nogal geskok om te sien hoe min ondersteuning daar was.

“Ek sê dit nou al vir ’n lang tyd, maar wat my betref, wil mense die beste spelers sien rugby speel en ongelukkig is dit nie ideaal wanneer jou beste spelers oorsee is nie.

“In die toekoms voorsien ek dat die (SA) spel na die Noordelike Halfrond sal skuif. Al hierdie vlugvoosheid en vlugte oor verskillende tydsones heen werk eenvoudig nie. Vir my maak dit sin om in die Noorde te gaan speel. Ons het al klaar so baie spelers wat in Europa speel en dit sal fantasties wees as Suid-Afrikaanse spelers teen mekaar kan speel in ’n Europese kompetisie.”

Vir eers is die Bulle, Stormers, Haaie en Leeus se fokus egter op die Superreeks, wat vanjaar op 31 Januarie afskop.

Volgens Brits, wat ná die WB-toernooi nou finaal uitgetree het as beroepspeler, sal hy ietwat verskeur wees wanneer hy vanjaar derbies tussen die Bulle en Stormers dophou.

“My hart lê vanjaar by die Bulle, maar ek het ook ’n sagte plekkie vir die Stormers,” erken hy.

“Hopelik speel hulle albei vanjaar goeie rugby en haal die eindstryd. Maar as dít gebeur, sal ek moeilik tussen die spanne kan kies.”

* Die Bulle het die Stormers in die 2010-seisoen in die Super-eindstryd in die Orlando-stadion in Soweto geklop. – Sportredaksie, Sport24.co.za

Meer oor:  Schalk Brits  |  Bokke  |  Pro14  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Superrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.