Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Schoeman sê waarom hy oorsee verkas

Hy moet omsien na sy gesin en met al die onsekerheid tans by die Cheetahs was dit die beste besluit om sy heil oorsee te vind.

So sê die Cheetahs se losskakel Tian Schoeman, wat onthul het hy kan nog tot die einde van die Curriebeker-reeks by die Vrystaters wees indien daar so ooreengekom word.

Tian Schoeman het verduidelik waarom hy sy loopbaan oorsee wil voortsit. Foto: Gallo Images

Schoeman gaan luidens berigte, nadat die Cheetahs uit die nuwe Pro16-kompetisie geskop is, sy loopbaan by Bath voortsit.

Schoeman (29) sê hy was nie van plan om te gaan soek vir ’n nuwe heenkome nie. Hy het egter met die onsekerheid by die Cheetahs ’n agent genader en gevra “of daar enige klubs is wat op die oomblik op soek is na losskakels” en dié het toe teruggekom met ’n paar moontlikhede.

“Ek is baie lief vir Bloemfontein en ek wou rêrig hier gebly het. Dis net dat ek moet kyk na my familie ook en met die onsekerheid by die Cheetahs was dit die beste keuse,” sê Schoeman.

Hy sê hy het nog nêrens pen op papier gesit nie, maar dat dinge vandeesweek nog kan rigting kry.

“Ek het nog niks geteken nie en is op die oomblik nog gekontrakteer by die Cheetahs.

“Tans wil hulle (’n oorsese klub met wie onderhandel word) hê ek moet op 1 Januarie aansluit, wat sal beteken ek het nog vier wedstryde oor by die Cheetahs. Ons is nog besig met onderhandelinge om te kyk of ek nie eers na die Curriebeker-reeks kan gaan nie.”

Die Vrystaat-Cheetahs begin hul CB-veldtog Saterdag op Loftus Versfeld teen Blou Bulle, wat tans kookwater is.

Die Vrystaters was die enigste span wat in die afgelope Superrugby Unlocked-reeks afgereken het met die Bulle, wat uiteindelik die reeks gewen het.

As hulle die wedstryd stadig maak teen ons, dan bring hulle hul groot voorspelers in die mix.

Baie het intussen verander, veral by die Vrystaters wat heelwat spelers verloor het sedert daardie oorwinning.

Volgens Schoeman kan hulle dit sonder die staatmakers weer regkry.

“Die Bulle speel ongelooflike mooi rugby op die oomblik en hulle wen ook wegwedstryde. Hul selfvertroue is baie sterk en hulle is natuurlik altyd moeilik op Loftus, so ek verwag ’n lekker mededingende wedstryd die naweek,” sê Schoeman, wat vir vyf seisoene ook ’n Bul was.

“Ja, ons span het so ’n klein bietjie verander (met spelers wat weg is).

“Ons is egter op ’n goeie voet en ons sien na die tweede ronde omdat ons meeste van ons wedstryde op die Hoëveld gaan speel, waarvan ons hou om in te speel en ’n bietjie hardlooprugby kan opdis.”

Die Bulle het in die spanne se eerste ontmoeting aan die einde op hul kragtige agttal gesteun en die wedstryd sou gelykop met 19-19 geëindig het as Chris Smith nie met ’n doelskop van skuins verbrou het nie.

“Ek dink die Bulle gaan dieselfde taktiek gebruik as wat hulle laas gebruik het in die tweede helfte.

“Dit het vir hulle gewerk. As hulle die wedstryd stadig maak teen ons, dan bring hulle hul groot voorspelers in die mix. Ek neem aan hulle sal begin met dieselfde taktiek, maar ek weet ook nie wat hulle planne is nie,” sê Schoeman.

Meer oor:  Tian Schoeman  |  Cheetahs  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.