Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Schuster: ’n Strafskop vir ’n poep?

Schuster vir president!

Só het baniere dit tydens 1995 se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Suid-Afrika uitbasuin.

Geheime wapen: Leon Schuster se liedjie “Hie Kommie Bokke” was in 1995 ongelooflik gewild. Foto: Gallo Images

Leon Schuster was toe ongelooflik gewild. Sy liedjie “Hie Kommie Bokke” is die hele tyd gehoor. ’n Mens het gesukkel om nie opgewonde te raak wanneer jy daarna luister nie.

Dit het sweerlik gehelp om die land agter die Springbokke te verenig en Schuster byna meer gewild as Nelson Mandela te maak.

Voor dit, en daarná, was Schuster gereeld in die kollig met sy poetse oor die radio en later in films, en sy gewildheid het eenvoudig gegroei.

Leon Schuster kon in 1995 dalk ’n suksesvolle politikus geword het! Foto: Skermgreep

Juis daarom is dit nie ’n verrassing nie dat baie mense nou ’n bohaai opskop, omdat Schuster se rolprente nie meer op Showmax vertoon mag word nie omdat dit kwansuis “onsensitief” teenoor sommige rasse is.

Dis nie ’n debat waarby hier vandag aangesluit word nie. Vandag praat ons rugby en vir byna ’n hele generasie is Schuster en rugby soos brandewyn en Coke.

Al voor “Hie Kommie Bokke”, het Schuster rugbyliefhebbers se voete laat jeuk met liedjies soos “Haak, Vrystaat, Haak”, “Die Rugby Onthaal” en die bisarre “Hoppitieskoppitie Rugbybal”.

Die omslag van een van Schuster se CD’s.

“Die Rugby Onthaalgetuig van fyn waarneming waarmee elkeen wat klubrugby gespeel het, sal kan identifiseer. Die vroue staan teen die mure en tel die manne se biere.

Later was daar liedjies oor die destydse Springbok-kaptein Morné du Plessis (“Morné”) en die langhaar-vleuel Cabous van der Westhuizen (“Pretty Kabousie”).

En wat van “Voorry Voete”?

Die voormalige Springbok-stut Anton Barnard kan in die musiekvideo van “Voorry Voete” gesien word.

“Daardie video is in 1984 voor ’n toets teen die Engelse in Port Elizabeth in die Boet Erasmus-stadion opgeneem,” sê Barnard.

Die oud-Springbokstut Anton Barnard. Foto: Willemien Green

“Ek, Kobus Delport en Tobie Hanekom was daardie tyd die OP se voorry. Leon-hulle het ons toe gekry om die Woensdag voor die toets in die Boet bymekaar te kom.”

Volgens Barnard het hulle die “voorry-dansie” eers ’n paar keer saam met Schuster geoefen en toe is dit opgeneem.

’n Mens kan sien Barnard-hulle het hul dansie mooi geoefen, want nog nooit voorheen of daarna is daar al ’n voorry gesien wat so baldadig rondtrap soos die OP-drie daardie dag nie!

“Dit was lekker ligsinnig. Almal was vol grappe en ons het daarna almal saam in ’n restaurant gaan kuier,” sê Barnard.

Die Saterdag is die liedjie toe voor die toets op televisie uitgesaai. Die legendariese kommentator Gerhard Viviers het nog die inleiding verskaf.

Wyle Viviers is, terloops, self op sy dag deur Schuster – wat sy stem vermom het – in ’n radio-uitsending oor ’n verlore haelgeweer-lisensie getreiter.

Die rugby-afrigter Blikkies Groenewald. Foto: Facebook

Nog ’n rugbyman wat lekker herinneringe het van sy tyd in die rolprentwêreld saam met Schuster, is Blikkies Groenewald.

Dié afrigter, wat ’n paar jaar gelede nog Tukkies gebrei het, is tans die Universiteit van Oklahoma in Amerika se afrigter.

Groenewald en verskeie ander klubspelers van Pretoria kan in die rolprent Sweet ’n Short, wat in 1991 uitgereik is, gesien word.

“Die rugbytonele is oor vyf dae op Loftus Versfeld in Pretoria verfilm,” sê Groenewald.

“Schuster het sy haksening op die eerste of tweede dag geskeur toe moes ons hom maar daardeur (die rugbytonele) help.”

Groenewald sê dat die regisseur Gray Hofmeyr op ’n kol vir Schuster op ’n soort waentjie op sy knieë laat sit het.

Schuster is toe tussen die ander manne op ’n spoorlyntjie rondgetrek en hy is net bolangs afgeneem, sodat dit lyk of hy aan die hardloop is.

Dit was nie die enigste besering wat gedurende die verfilming opgedoen is nie.

Een van die ander ware rugbyspelers, Deon Grobler, moes in ’n toneel in die hoek oor duik vir ’n drie.

“Ons het daardie toneel oor en oor gedoen en die laaste keer toe is Gray Hofmeyr tevrede, maar toe het Deon ook sy sleutelbeen gebreek toe hy oor die doellyn geduik het!” sê Groenewald.

Joey Graaff, daardie tyd die voorsitter van Eersterus-rugbyklub, is deur Schuster-hulle ingehark om die skeidsregter te speel.

“Joey was mos die ref wat ’n strafskop toegeken het teen die ou wat aanhoudend in die skrum gepoep het,” sê Groenewald.

Toilethumor, sal party mense sê, maar baie ander het gelag dat die trane rol.

Leon Schuster en Alfred Ntombela het saam in verskeie rolprente gespeel. Foto: Gallo Images

Groenewald onthou ook die noue band tussen Schuster en Alfred Ntombela, wat in verskeie van Schuster se ander flieks ook gespeel het.

Dit laat ’n mens wonder oor die oor die storm wat nou om Schuster se kop woed.

Maar nou ja, soos Schuster op ’n tyd gesing het: “Ag, man, moenie moan nie, eet jou kaas en jou polonie . . .”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.