Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kommer oor SA se fluitjie- droogte
Egon Seconds gepos uit Superreeks

Nadat Suid-Afrika se rugbyskeidsregters ’n bloeitydperk op internasionale vlak beleef het, is die blaser-insinking wat die land tans beleef, ’n yslike bekommernis vir plaaslike rugbybase.

Egon Seconds

Die insinking ten opsigte van die lewering van topblasers is herbevestig toe twee SA blasers die afgelope ruk hul posisies in die skeidsregterpanele van twee internasionale kompetisies verloor het – in die Superrugby-reeks én die Pro14-kompetisie.

Egon Seconds, wat verlede jaar kwaai onder ontevrede ondersteuners vir sy omstrede beslissings deurgeloop het, is nie meer deel van vanjaar se skeidsregterpaneel in Superrugby nie, terwyl Quinton Immelman ’n paar maande gelede al van die Pro14-paneel verwyder is.

Suid-Afrika het tans nie ’n enkele skeidsregter op die paneel van die Wêreld-sewesreeks nie, al is die voormalige SA skeidsregter Craig Joubert die hoof van die blasers in die sewesreeks.

Dit beteken geen SA blaser sal by vanjaar se Olimpiese Spele in die manskompetisie optree nie. Dit kom nadat drie SA skeidsregters by die vorige Olimpiese Spele in Rio de Janeiro opgetree het.

Jaco Peyper is nou ook die enigste toetsskeidsregter in die land. Sy loopbaan as blaser op die hoogste vlak begin egter ook einde se kant toe staan.

Suid-Afrika se ander skeidsregters in Sanzaar se paneel is Marius van der Westhuizen, AJ Jacobs en Rasta Rasivhenge. Rasivhenge word beskou as ’n toekomstige toetsskeidsregter, maar sal eers ná vanjaar se Superreeks ’n trap hoër kan klim.

Peyper sou verlede jaar die Wêreldbeker se een halfeindstryd gehanteer het, maar ná omstredenheid omdat hy vir ’n foto saam met Walliese ondersteuners geposeer het in ’n geskerts oor ’n rooikaart wat hy vir ’n Franse speler gegee het, is hy as blaser verwyder.

Suid-Afrika het wel in Aimee Barrett-Theron ’n skeidsregter in die paneel vir Wêreldrugby se vroue-sewes.

Stuart Berry is tans die enigste Suid-Afrikaanse skeidsregter wat in die Pro14-reeks blaas.

Vir SA Rugby is blasers wat nie in internasionale reekse optree nie, ’n geldelike las omdat SA Rugby hul salarisse moet betaal.

Seconds, Immelman en Cwengile Jadezweni is almal op kontrak by SA Rugby, maar geeneen van hulle gaan hulle volgens Rapport se bronne tydens die Super-reeks vir skeidsregterontwikkeling beskikbaar stel nie.

SA Rugby het nie op vrae gereageer nie, terwyl Sanzaar se woordvoerder, Greg Thomas, in ’n e-pos beweer die paneel van skeidsregters is nog nie bekend gemaak nie. “Ons sal binnekort ’n verklaring oor die skeidsregterspan vir 2020 maak, so ons sal nie kommentaar lewer tot dan nie. Die skeidsregters is tans besig met hul voorbereidingskamp in Suid-Afrika.”

Meer oor:  Sa Rugby  |  Saru  |  Egon Seconds  |  Superrugby  |  Blasers  |  Pro14
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.