Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sege kan Blitsbokke op Spele help

Hoewel ’n reekssege neusie verby vir die Blitsbokke is, kan ’n oorwinning in die naweek se Parys-sewestoernooi die span selfvertroue vir 2020 se Olimpiese Spele gee.

Só sê die voormalige Springbok én Blitsbok Gio Aplon aan die vooraand van die laaste toernooi van die seisoen wat in Frankryk beslis word.

Die Blitsbokke se kaptein, Siviwe Soyizwapi, loop die afgelope week in ’n oefening in Parys die span se afrigter, Neil Powell, uit die aarde uit. Agter is Justin Geduld. Foto: Wêreldrugby | Mike Lee

“Vir hulle (die Blitsbokke) is dit nou belangrik om die jaar goed af te sluit, wat die grondslag vir die begin van volgende seisoen sal lê. Dit was ’n moeilike jaar omdat baie nuwe manne speelkans in die reeks gekry het. Dit is dus juis belangrik om baie goed af te sluit.

“Dit sal die manne selfvertroue gee vir volgende jaar en omdat die Olimpiese Spele ook dan beslis word, kan ’n goeie vertoning die naweek baie meer beteken as wat ’n mens dink,” sê Aplon.

Hoewel die Blitsbokke in Parys sonder die dienste van die beseerde Kurt-Lee Arendse en Stedman Gans is en Selvyn Davids hom weens persoonlike redes moes onttrek, lek Aplon sy lippe af om Cecil Afrika, wat ’n jaar buite aksie was, weer in aksie te sien.

“Ons kry van die beste sewesspelers soos Cecil Afrika terug, so ons kry weer baie ervaring. Hy wen soms wedstryde op sy eie, nie om die ander se aandeel minder te maak nie,” sê Aplon.

Hy laat hom nie flous deur die Blitsbokke se louwarm vertoning die afgelope naweek in Londen toe hulle in die kwarteindronde uitgeskakel is nie, en sê hulle kan die toernooi in Parys ’n derde agtereenvolgende jaar wen.

Gio Aplon in 2009 in die sewestoernooi in Londen. Foto: Getty Images

“Wees verseker, jy het nog nooit ’n Blitsbok-span gesien wat twee naweke in ’n ry sukkel nie, en ek glo die manne sal hierdie naweek vir vuurwerk sorg.”

Philip Snyman kon weer nie die 12-tal vir die toernooi haal nie, en sal as plaasvervanger diens doen. Dit beteken dat Afrika, Dewald Human en Mfundo Ndhlovu, wat hulle almal die afgelope week by die span aangesluit het, beslis in aksie gaan wees.

Die 36-jarige Aplon is geen onbekende as dit by die Blitsbokke kom nie. Hy het dié span immers tussen 2006 en 2009 in 15 toernooie verteenwoordig en was deel van die Suid-Afrikaanse sewesspan wat die toernooi in Parys die eerste keer (in 2006) gewen het.

Hy raak omtrent nostalgies as jy hom oor daardie sege vra – toe hy boonop as Speler van die Toernooi aangewys is.

“Sjoe, dis baie lank gelede, daardie tyd was die toernooi in Parys net voor die Engeland-toernooi, so ons was redelik vars en gereed. Destyds het ek net begin sewes speel, en die hele span wou die seisoen goed afsluit deur die laaste twee toernooie te wen,” sê Aplon, wat die Springbokke in 17 toetse tussen 2010 en 2012 verteenwoordig het. Hy is in 2018 deur die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, vir die eindjaartoer na Europa nadergetrek.

  • Blitsbokke se bepalings vir Saterdag:
  • 11:44: Wallis
  • 15:10: Kenia
  • 18:58: Australië
  • Al die wedstryde word regstreeks op SS 7 uitgesaai.
Meer oor:  Parys  |  Gio Aplon  |  Sewes  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.