Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Sege oor All Blacks kan grondslag lê'

Suid-Afrika se toets teen Nieu-Seeland in die Rugbykampioenskap sal groot betekenis dra omdat dié twee rugbyreuse in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan in ’n groepwedstryd kragte meet.

John Smit / Foto: Stephen Nell

Dís die mening van die voormalige Springbok-kaptein John Smit, wat Suid-Afrika in die Wêreldbeker-toernooie in Frankryk in 2007 en Nieu-Seeland in 2011 aangevoer het.

“Om oorsee in die Rugbykampioenskap te wen, sal help met die span se selfvertroue,” het Smit op ’n geselligheid van die Wêreldbeker-borg Heineken in Stellenbosch gesê.

“As ons Nieu-Seeland toe gaan met ’n mededingende span en wys dat ons hulle soos verlede jaar kan klop, sal ek eerder Rassie Erasmus (die Bok-afrigter) as Steve Hansen (All Blacks se afrigter) wil wees,” sê Smit.

Smit meen die Bokke moes verlede jaar eintlik twee keer teen die All Blacks gewen het. Hulle het die Kiwi’s teen alle verwagtinge in met 36-34 in Wellington geklop en daarna met 30-32 in Pretoria verloor. Die Bokke was op Loftus gemaklik in beheer voordat hulle laat in die toets die kluts kwytgeraak het.

Suid-Afrika speel vanjaar op 27 Julie weer in die Nieu-Seelandse hoofstad voor 21 September se Wêreldbeker-groepwedstryd in Jokohama.

Daar was nog nooit ’n span wat die Wêreldbeker gewen het wat nie vir sewe weke onoorwonne was nie.
Jake White

Die verloorder van hierdie wedstryd behoort steeds die kwarteindronde te haal, maar het dalk die vooruitsig van ’n uiters taai kragmeting met Ierland.

“Ons het voorheen altyd verwag om iewers teen Nieu-Seeland in die WB-toernooi te speel, maar hierdie keer is dit ons eerste wedstryd en ek onthou Jake White (voormalige Bok-afrigter) se woorde goed: ‘Daar was nog nooit ’n span wat die Wêreldbeker gewen het wat nie vir sewe weke onoorwonne was nie’.”

Smit meen Suid-Afrika het die vermoë om die All Blacks onder druk te plaas.

“Ons het ’n goeie verdedigingstelsel ontwikkel wat die All Blacks se ruimte beperk. Ons het al gesien dat die All Blacks nie van daardie aggressiewe tipe verdediging hou nie,” sê hy.

Smit meen daar was nog nie vantevore ’n WB-toernooi wat soveel wenners kan oplewer as wat vanjaar in Japan die geval gaan wees nie.

“Daar is vyf spanne wat in die prentjie kan wees. Nieu-Seeland sal die gunsteling wees, maar het nou ook ’n bietjie teenspoed opgetel. Ierland het selfvertroue en Engeland het baie goeie baldraers.”

Ierland het die All Blacks in November verlede jaar in Dublin geklop en is tans tweede op Wêreldrugby se ranglys ná Nieu-Seeland. Wallis lê in die derde plek, Engeland vierde en Suid-Afrika vyfde.

Meer oor:  Bokke  |  Jake White  |  Toetsrugby  |  John Smit  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.