Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sege sal eers later insink, sê Aphiwe

Die Springbokke se verbeterde afronding in Wellington is volgens Aphiwe Dyantyi ’n teken dat die span onder Rassie Erasmus groei.

Aphiwe Dyantyi skop die bal vorentoe terwyl die All Black-losskakel Beauden Barrett aan hom hang. Die jong Bok-blits het Saterdag twee drieë gedruk – albei ná hy om Barrett gewals het.Foto: AP

“As jy na die vorige twee toetse teen Argentinië en Australië kyk, het ons meer as tien kanse gehad om drieë te druk. Daarvan het ons net twee gebruik,” het die Bok-vleuel – een van die helde in die Bokke se sege met 36-34 oor die All Blacks – Saterdag gesê.

“Vanaand (Saterdag) het ons waarskynlik so ses kanse gehad, waarvan ons vyf benut het. Dís iets waaraan ons hard werk.

“In toetsrugby tel elke kans. Veral teen ’n span soos Nieu-Seeland, want hulle gee jou nie baie nie.”

Die 24-jarige Dyantyi het twee van daardie kanse benut en in albei gevalle flinke voetwerk ten toon gestel.

“Dis ’n wonderlike gevoel om twee drieë teen Nieu-Seeland te druk, maar belangriker is die uitslag wat ons behaal het. Dis ongelooflik om hier te wen. Dis nie sommer enige span wat dit vermag nie. Ons het egter nog harde werk om te doen. Ons het nog twee tuistoetse in die Rugbykampioenskap oor.”

Die boodskap aan ons was die hele week om ten alle tye in die oomblik te bly. Wees geduldig.
Aphiwe Dyantyi

Die Bokke se volgende wedstryd is op 29 September in die Baai teen die Wallabies. ’n Week later wag die All Blacks weer in Pretoria.

“Die sege beteken baie vir ons selfvertroue, veral ná die twee verloortoetse. In hierdie toets (teen die All Blacks) was ons so in die oomblik vasgevang, daar was nie tyd om op die veld te dink oor wat ons met ons verdediging vermag het nie. Dit sal eers met ons video-ontleding insink.

“Die boodskap aan ons was die hele week om ten alle tye in die oomblik te bly. Wees geduldig. Hou jou aandag gerig op wat jy moet doen. Gelukkig het ons teen die einde die oorwinning behaal.”

Dyantyi het op toer in Australasië gesê hy was sy lewe lank een van Bryan Habana se grootse ondersteuners. Hy het selfs plakkate van sy Bok-held teen sy kamermuur gehad.

Hy het Habana ook op sosiale media soos Instagram en Twitter gevolg. Daar het hy gereeld die like-knoppie op sekere inskrywings van Habana gedruk. Met tye het hy selfs kommentaar op van Habana se inskrywings gelewer.

Sedert hy vanjaar vir die Bokke speel, is Habana een van sý grootste ondersteuners. Hulle is gereeld in kontak. Dyantyi geniet elke oomblik daarvan, maar besef hy moet nog baie as speler ontwikkel om eendag dieselfde as sy held in die Bok-trui te vermag.

Erasmus is egter tevrede met die groei wat sy blits vanjaar op toetsvlak toon.

“Aphiwe het Saterdag (in die laaste oomblikke) die groot duikslag (op Damian McKenzie) gemaak om die toets teen die All Blacks te wen,” het die Bok-afrigter gesê.

“Hy het nie die verdediging so goed gelees in sy vorige toetse nie, maar toe kom doen hy dit hier op die grootste verhoog teen die All Blacks.

“Weens sy duikslag het die bal los gespat en het ons die toets gewen. Al hoe ’n speler soos hy leer, is deur toetsrugby te speel en foute te maak soos hy teen die Wallabies gedoen het.”

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Wellington  |  Bokke  |  Aphiwe Dyantyi  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.