Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke: ‘Selfde sjefs, selfde wenresep’
Koch was pootuit toe die eindfluitjie geblaas word in die Wêreldbeker-eindstryd, maar het darem nog genoeg energie oor gehad om só saam met Herschel Jantjies te vier. Foto: Getty Images

Dit gaan sake-soos-gewoonlik in die Suid-Afrikaanse kamp wees met Jacques Nienaber nou in die rol van hoofafrigter, meen die Springbok-vaskopstut Vincent Koch.

Nienaber, die verdedigingsafrigter by verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi, is in die nadraai daarvan tot die amp van Springbok-afrigter verhef nadat Rassie Erasmus as direkteur van rugby besluit het om die poste te skei.

“Ek dink dit gaan in die geheel dieselfde wees. Rassie gaan steeds die plan uitdink en Jacques gaan dit in werking stel. Dis hoe dit by die WB-toernooi was,” sê Koch.

“Ek kan eerlikwaar nie sien hoe dit anders gaan wees as die laaste paar jaar nie. Ek dink ook nie die wedstrydplan gaan verander omdat Jacques nou die Bok-afrigter is nie.”

Volgens Koch is die spelers baie erg oor Nienaber, wat bekendheid verwerf het vir sy uitsonderlike werk as ’n verdedigingsafrigter.

Jacques Nienaber (links) is nou die Springbok-afrigter, maar gaan enigiets werklik verander wat sy en die direkteur van rugby, Rassie Erasmus, se pligte in die kamp betref? Foto: Gallo Images

“Hy is ’n baie goeie afrigter en sy kennis van rugby is ongelooflik,” sê Koch, wat sy ervaringe van verlede jaar se WB-toernooi in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gedeel het.

“Dit was vir my ’n verrassing net om die groep te haal. Om boonop te kon speel het my asem weggeslaan,” sê hy.

Koch was nie in die Bokke se 23-tal vir hul openingswedstryd teen die All Blacks nie, maar ’n besering aan Trevor Nyakane het die deur vir die res van die toernooi vir hom oopgeswaai.

“Ek het Trevor baie jammer gekry, maar dit het vir my die geleentheid geskep op ’n plek in die 23-tal. Ek onthou ek het onder in ’n losskrum gelê toe die eindfluitjie in die eindstryd geblaas is. Sous (Franco Mostert) het bo-op my gelê, my ’n druk gegee en gesê ‘Flippin hel, pel. Ons het dit gedoen!’,” onthou Koch die hoogtepunt van sy loopbaan.

Koch meen die strategie van ses voorspelers op die bank het Erasmus se genialiteit uitgebeeld.

“Rassie is ’n baie goeie en slim afrigter. Hy het die hele toernooi vir mense gewys hy doen dinge anders. Waar in jou lewe het jy al ’n bank met ses voorspelers en twee agterspelers vir ’n WB-eindstryd gesien?” sê Koch.

“Sy uitgangspunt was dat die groot ouens moeg gaan word. Hy het toe ses voorspelers op die bank gesit sodat ons met die tempo sal kan volhard. Ek dink ander afrigters het gesê hy’s mal, maar dit het beslis gewerk.”

As een van die ses het Koch daardie meesterplan fisies ervaar. Hy was in die ongelooflike rolmaalbeweging van 50 meter voordat Faf de Klerk afgerond het in die kwarteindstryd teen Japan.

Die Bokke het ook onmiddellik ’n strafskop by ’n skrum vroeg in die tweede helfte van die eindstryd afgedwing nadat hy en Steven Kitshoff opgestuur is.

Oor daardie maalbeweging sê Koch dit het nie terloops gebeur nie.

“Dis iets wat ons geoefen het. Ons het daardie week baie klem daarop gelê en vir mekaar gesê dat die voorspelers en die maalbewegings ons in staat sal stel om die WB-toernooi te wen,” vertel hy.

“Ons het sessie ná sessie ingesit met Rassie en Matt (Proudfoot, die voorspelerafrigter). Dit was ongelooflik toe dit in die kwarteindstryd gebeur. Ek het nie gedink daardie maalbeweging gaan só ver vorder nie. Dit was die eindproduk van beplanning en oefening.”

Koch (middel) word deur RG Snyman gelukgewens op ’n strafskop wat hy by ’n skrum afgedwing het in die Bokke se halfeindstryd teen Wallis. Foto: Getty Images

Op 30 is Koch in sy fleur as ’n vaskopstut en hy koester nog groot drome.

“ ’n Mens weet nie presies wat gaan kom nie. My doelwit is om vir ’n paar jaar in die Bokke se planne te bly en hopelik die span te haal vir die Britse en Ierse Leeus se toer volgende jaar. Dis enige speler se droom om teen hulle te speel,” sê hy.

“Ek sal dan wéér teen daai klomp Engelse speel, so dit sal lekker wees om ’n deel van daardie groep te kan wees!”

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Bokke  |  Springbokke  |  Vincent Koch  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.