Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Selvyn blinkste ster vir Blitsbokke
Selvyn Davids Vrydag in aksie vir Suid-Afrika 1 teen Kenia, toe die twee spanne op die eerste dag slaags was. Foto: Gallo Images

Ná sy soveelste skittervertoning vir die Blitsbokke kan Selvyn Davids in alle waarskynlikheid maar solank sy tasse begin pak vir die Olimpiese Spele.

Davids, ’n spelskepper, was die groot uitblinker in die sewestoernooi wat Saterdag in Stellenbosch ten einde geloop het. Twee Suid-Afrikaanse spanne, tesame met Kenia, Zimbabwe en Uganda was daar in aksie.

Die wedstryde het as voorbereiding vir die Spele gedien, en aan spelers die geleentheid gegee om Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, te oortuig om hulle in die span vir Tokio in te sluit.

Justin Geduld het die naweek ook goeie spel gelewer. Foto: Gallo Images

Die vlugvoetige 27-jarige Davids het die geleentheid met albei hande aangegryp. Hy het teenstanders met sy vaart, skoppies wat tot drieë vir sy span gelei het en aanvoeling vir die spel uitoorlê.

In Davids, iemand wat oor die X-faktor beskik, het Powell ’n speler wat die gang van ’n wedstryd kan verander.

Benewens Davids het spelers soos Branco du Preez, Ruhan Nel, JC Pretorius en Justin Geduld ook goeie vertonings gelewer.

Vir die rekord: Suid-Afrika 1, soos die Blitsbokke in die toernooi bekend gestaan het, het Saterdag albei sy wedstryde gewen. Eers is Zimbabwe (36-0) en daarna Kenia (31-5) geklop.

Die Suid-Afrikaners het foute begaan, soos duikslae wat verbrou is. Maar in die geheel kan Powell tevrede wees met die wedstrydtyd die afgelope twee naweke.

Die eerste been van die toernooi is verlede naweek beslis, met die Stellenbosch-Sportakademie wat toe ook in aksie was.

“Dit was vir ons ’n goeie twee naweke,” het Powell ná afloop van Saterdag se laaste wedstryd gesê.

“Dit was regtig vir ons belangrik om teen internasionale teenstanders te speel, omdat hulle jou net soveel meer onder druk plaas en meer fisiek as die plaaslike spanne in die kontakareas is.”

Powell het toegegee dat daar baie dinge was waarmee hy in sy noppies is, “maar daar is ook goed wat ons kan beter doen”.

Die Blitsbokke kry van Dinsdag af ’n ruskans, voordat hulle die week daarna weer na die oefenveld sal terugkeer.

Meer oor:  Selvyn Davids  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.