Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Senatla ‘offer geld op’ om Bok te kan word

Hoewel daar die geelwortel van ’n Olimpiese Spele in 2020 is, gaan Seabelo Senatla die Blitsbokke ná aanstaande maand se Kaapstad-sewestoernooi groet om hom op sy ambisies in die vyftienmankode toe te spits.

Seabelo Senatla wil die Stormers se Superrugby-veldtog gebruik om sy kleim af te steek vir ’n plek in die Springbok-span. Foto: Gallo Images

“Seabelo is absoluut oortuig dat hy ’n Springbok in vyftienmanrugby kan word. Dís waar sy fokus is. Hy offer nogal baie geld op om sy ambisie na te streef. Daar is voelers na hom uitgesteek om méér sewesrugby te speel, maar hy het sy eie idees,” het John Dobson, die Stormers se afrigter vir aanstaande jaar se Superreeks, Maandag in Kaapstad gesê.

Sou die Stormers tot die uitspeelrondes van die Superreeks vorder, sal hulle die senter Ruhan Nel aan die Blitsbokke afstaan vir hul voorbereiding met die oog op die Olimpiese Spele in Tokio.

Senatla sal soos Nel ná die Kaapstad-sewestoernooi, wat van 13 tot 15 Desember plaasvind, by die Stormers inskakel.

Die moontlike ontydige verlies van Nel verskerp die hoofpyne wat Dobson met sy diepte op senter het. Damian de Allende, Dan Kriel én EW Viljoen het almal die Kaap verlaat.

Michal Haznar, ’n onbesonge senter van Griekwas, het hom by die WP aangesluit. In Dan du Plessis het die Stormers ’n man wat albei senterposisies kan speel, maar hy is baie kwesbaar vir beserings.

Die Stormers het wel die opsie om nóg senters te kontrakteer indien die WP Rugbyunie se sakevleuel bereid sal wees om sy sak te skud, maar dis onwaarskynlik gegewe sy benarde finansiële posisie.

“Daar is twee internasionale senters, waarvan een ’n Britse en Ierse Leeu is, wat graag vir ses maande in Kaapstad wil speel. Ons het egter nie juis baie geld nie,” sê Dobson.

Die gebrek aan diepte op skrumskakel – waar die Stormers slegs vir Herschel Jantjies as ’n beproefde Superrugby-speler op sy boeke het – kan beteken dat die veteraan Jano Vermaak op kort termyn behou word.

Op haker is daar slegte nuus rakende Ramone Samuels.

“Daar heers groot kommer dat hy dalk sal moet uittree. Hy het ’n probleem met ’n senuwee in sy enkel. Dit was ’n baie slegte breuk. Ons gaan in Februarie oor die pad vorentoe besluit,” sê Dobson.

Die Stormers het natuurlik steeds vir Bongi Mbonambi en Scarra Ntubeni as hakers, maar kan in tamatiestraat wees as een van hulle ’n besering opdoen. Chad Solomon het nie in vanjaar se Curriebeker-reeks op haker oortuig nie en daar het veral vrae oor sy skrumwerk ontstaan.

Die Stormers se diepte op slot, loskopstut en onder die losvoorspelers sal versterk word deur die terugkeer van onderskeidelik Cobus Wiese, Ali Vermaak en Johan du Toit van beserings.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Bokke  |  Seabelo Senatla  |  Stormers  |  Springbokke  |  Blitsbokke  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.