Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sesnasies: Iere, Hane of Rose kan wen
Tadhg Beirne van Ierland word deur die Italianer Gianmarco Lucchesi grond toe gebring in die spanne se Sesnasies-kragmeting in Dublin Saterdag. Foto: Getty Images

Die Sesnasies-reeks stuur op ’n dramatiese einde af met Ierland, Engeland óf Frankryk wat Saterdag die titel kan wen.

Ierland het Saterdag in Dublin korte mette van Italië gemaak (50-17) en is met 14 ligapunte boaan die puntelys, maar moet Frankryk in Parys gaan aandurf.

Die Hane het juis Saterdagaand Wallis in die Stade de France oortuigend met 38-21 in ’n opwarmstryd geklop.

Die Iere sal met die beker terugkeer huis toe as hulle Frankryk kan verslaan en ’n bonuspunt kry.

Engeland kom vroeër Saterdag in Rome teen Italië te staan en hoewel die besoekers nie die naweek teen ’n Barbarianspan kon litte losmaak nie, behoort hulle te sterk vir Franco Smith se span te wees.

Eddie Jones sal hoopvol wees dat Frankryk tuis wen, maar nie ’n bonuspunt kry nie.

’n Oorwinning met ’n bonuspunt teen Italië sal Engeland dan die Sesnasies-kampioen maak.

Dit sal neerkom op die spanne se punteverskil as Ierland en Engeland of Frankryk op 18 ligapunte eindig.

Ierland is op +38, Engeland +15 en Frankryk +13, maar dit kan verander met die verwagting dat die Rose die punte kan inryg in Rome.

Ierland se kaptein, Johnny Sexton, glo as daar een span is wat die knoop kan deurhak, “is dit ons”.

Hy het toegegee dit was ’n vreemde ervaring om in ’n leë Aviva-stadion (weens Covid-19-regulasies) hul “eie energie te skep”.

Sexton was agterna, ondanks een van sy aangeë wat op ’n pasella-drie vir die besoekers uitgeloop het, meer as tevrede met die Iere se vertoning.

“Frankryk is ’n uitstaande span en ons sal ons storie moet ken. Ek glo egter as daar ’n span is wat dit kan vermag, is dit ons.”

Ierland sal sonder die senter Garry Ringrose wees nadat hy Saterdag sy kakebeen gebreek het.

Ringrose het die besering opgedoen toe Edoardo Padovani se knie per ongeluk sy gesig getref het toe hy dié Italianer se skop wou afstorm in die eerste helfte.

Frankryk het Saterdag puik vertoon teen die Drake nadat die wedstryd so byna nie plaasgevind het nie met Franse klubs wat nie hul spelers wou beskikbaar stel nie.

Fabien Galthie, die Franse breier, het hom ná die wedstryd vererg toe ’n rugbyskrywer gevra het hoeveel daar in die vertoning gelees kan word.

“Ons het die wedstryd gewen ná een oefening saam en ons het vyf drieë gedruk teen Wallis. Dit moet iets tel.

“Voordat daar gesê word ons moet verbeter, wil ek graag noem dat ek baie tevrede is nadat ons vir so ’n lang ruk nie kon speel nie.” – sixnationsrugby.com

Meer oor:  Italië  |  Ierland  |  Sesnasiesreeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.