Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sesnasies, Sanzaar-reeks skuif dalk aan

Daar loop sterk gerugte in Brittanje dat aanstaande jaar se Sesnasies-reeks van Februarie na April sal aanskuif – en dat vanjaar se Rugbykampioenskap ook eers dan afgehandel sal word.

Die Twickenham-rugbystadion in Londen word nou as ’n fasiliteit gebruik vir Covid-19-toetse. Foto: AP

Volgens The Rugby Paper word dié besluit oorweeg om finansieel ná die Covid-19-pandemie te oorleef en om ’n konflik tussen Europese klubs en internasionale wedstryde te voorkom.

Dit kan beteken dat die Europese klubseisoen eers in Desember vanjaar sal begin.

Dit sal gedoen word om vanjaar se Sesnasiesreeks in Oktober af te handel en ook nog plek te maak vir die 20 toetswedstryde wat daar in November tussen spanne van die Suidelike en Noordelike Halfrond moet plaasvind.

“Die voorstel is om die Sesnasiesreeks in April te speel en dan eers in die middel van Mei te eindig,” berig The Rugby Paper.

Die Springbokke is veronderstel om in Junie en Julie toetswedstryde teen Skotland (twee) en Georgië te speel, voordat vanjaar se Rugbykampioenskap tussen Augustus en September plaasvind.

Die kanse dat dit sal gebeur, raak al hoe skraler.

Vroeër was daar bespiegelings dat ’n nood-Sesnasies-toernooi in Oktober en November gehou sal word om vanjaar se bepalings wat opgeskort is, te laat plaasvind.

Dit sou beteken het dat die November-toere van die Springbokke, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië na die Noordelike Halfrond in die gedrang sou wees.

Suid-Afrika is veronderstel om Italië, Frankryk, Ierland en Wallis op hul jaareindtoer te pak.

* Intussen het die Mirror Sondag berig dat aanstaande jaar se Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika ook in die gedrang kan kom.

Die vier Britse tuisunies, Engeland, Wallis, Ierland en Skotland, is desperaat om vanjaar se uitgestelde Sesnasies-reeks af te handel.

Maar as die wedstryde weens die Covid-19-pandemie nie kan plaasvind nie of met geslote deure gespeel sal word, sal die tuisunies sowat R1,8 miljard (£80 miljoen) inboet.

Dit kan veral Wallis, Ierland en Skotland op hul knieë dwing.

Die tuisunies sal elkeen net sowat R4,7 miljoen uit die Leeus-toer ontvang, vergeleke met die sowat R9,6 miljoen tot R18 miljoen wat hulle vir elke tuistoets kry. Dit kan daartoe lei dat hulle die seisoen van 2021 sal heroorweeg. – Sportredaksie

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Sesnasies  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.