Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sewesrugby se gewildheid ‘gaan toeneem’

Diegene wat onthou hoe die sirkus destyds van dorp tot dorp getrek het, sal ooreenkomste sien met Wêreldrugby se sewesreeks, wat jaarliks tien wêreldstede besoek en waar vermaak voorop gestel word.

Toeskouers sing die nasionale lied tydens die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Dallen Stanford, ’n Kapenaar van geboorte wat Amerika in sewesrugby verteenwoordig het, is een van diegene wat oor die toekoms van dié spel opgewonde is.

“Wêreldrugby se sewesreeks is ’n ongelooflike produk wat duisende kleurryke toeskouers wêreldwyd betrokke kry. Boonop is dit aantreklik vir borge en uitsaaiers.

“Ek dink sewes kan op al hierdie fronte selfs nóg gewilder raak, veral in ontwikkelende rugbynasies, met die Olimpiese Spele wat aan die sport bykomende legitimiteit verskaf.

“Uit die oogpunt van ’n kompetisie is dit baie opwindender as vyftienmanrugby, omdat enige span ’n ander een in ’n toernooi kan klop,” sê Stanford (41), wat deesdae as kommentator werk en steeds nou by die spel betrokke is.

Dallen Stanford (regs) voer ’n onderhoud Waisale Serevi, voormalige speler en afrigter van Fidji.

Op plaaslike bodem het die Blitsbokke se sukses dié sport die laaste paar jare geweldig gewild gemaak en het die span boonop daarin geslaag om ’n unieke identiteit te bou. In lande soos Fidji, Kenia en Spanje is hul sewesspanne boonop baie suksesvoller as in vyftienmanrugby.

Tog meen Stanford, ’n oud-Ikey wat sy aangenome land in 12 toernooie tussen 2007 en 2009 verteenwoordig het, nie dat vyftiens en sewes met mekaar meeding nie en dat daar ruimte vir elke formaat is.

“Ek dink nie dit is nodig om sewes as in kompetisie met vyftienmanrugby te sien nie, juis omdat dit twee verskillende sporte is.

“Ondersteuners kan albei ondersteun, iets wat in ’n land soos Suid-Afrika nuttig geblyk het. Toe die vyftiens nie op ’n gereelde grondslag gewen het nie, het die Blitsbokke titels in die Wêreldreeks gewen.”

Hy erken dat van die toernooie wat deel van die Wêreldreeks vorm, sukkel om hul stadions vol te kry, maar soos Suid-Afrikaners weet, is dit nie die geval tydens die jaarlikse Kaapstad-toernooi in Desember nie.

“Die ondersteuning is beslis daar, maar organiseerders (elders ter wêreld) het veranderinge gemaak aan die getal beskikbare sitplekke weens voorvalle waar alkohol die laaste paar jaar betrokke was.

Dallen Stanford besig om wedstrydkommentaar te lewer.

“Sommige lande sukkel om hul kaartjies te verkoop, maar gelukkig is dit in stede soos Kaapstad, Vancouver, Dubai en Hongkong nie die geval nie,” sê Stanford.

Hoewel omtrent enige span in ’n Wêreldreeks-toernooi op sy dag met die bestes kan afreken, is konsekwentheid die sleutel om die Wêreldreeks te wen. Juis daarom kon slegs vier spanne, Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Fidji en Samoa, dit (’n Wêreldreeks-titel) tot dusver regkry.

“Ek verwag dat Ierland meer kompeterend in die komende seisoene gaan wees en gereeld onder die voorste agt spanne gaan eindig, omdat hulle oor ongelooflike spelers met visie beskik.

“Spanje het in die onlangse verlede aandag getrek en sy krag ten toon gestel deur Nieu-Seeland en Engeland te klop, maar dit sal moeilik wees om daardie uitslae in elke toernooi te behaal.

Dallen Stanford in aksie vir Amerika in 2007. Op die foto kan die handskoene gesien word waarna hy verwys. Foto: Getty Images

“Spanne soos Duitsland, Japan en Hongkong kan in die toekoms goed vaar,” sê Stanford.

Dié oudleerling van Rondebosch Boys’ High meen die rede vir die Blitsbokke se sukses is omdat die span se afrigter, Neil Powell, ’n spankultuur gevestig het waar die spelers hulself roem op hul verdediging.

“Terwyl daardie stelsel reeds gegeld het toe Powell oorgeneem het, het hy ’n ongelooflike werk gedoen om dit oor die spelers te laat gaan. Dus het almal in die groep die vermoë om hulself op die veld uit te leef,” sê Stanford.

Dit was blote toeval dat Stanford Amerika in sewes verteenwoordig het. Hy het destyds na Amerika verhuis en is in ’n toernooi deur die land se breier gevra om homself beskikbaar te stel.

“Dit was altyd my droom om Suid-Afrika te verteenwoordig, maar terugskouend, as ek daar gebly het, sou ek nooit al die reise en ervarings hier in Amerika ná my speeldae gehad het nie.

“Die enigste ding waaroor ek spyt is, is dat ek daardie simpel handskoene (in sy speeldae) gedra het, maar ek blameer my voormalige kamermaat Brent Russell (hulle was kollegas in 2000 en 2001 by Bishops Prep) daarvoor.”

Meer oor:  Amerika  |  Sewesrugby  |  Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.