Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Shakes’ gaan Blitse aanvoer, maar . . .
Siviwe Soyizwapi gaan die Blitsbokke die seisoen aanvoer, maar nie in al die toernooie in aksie wees nie. Foto: Getty Images

Siviwe Soyizwapi sal die Blitsbokke die komende seisoen aanvoer, maar hy sal nie in al die toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks in aksie wees nie.

Die 26-jarige Soyizwapi, of Shakes soos hy bekend staan, het verlede seisoen die kaptein geword toe Philip Snyman, wat intussen sy uittrede aangekondig het, beseer is.

Daar is egter etlike uitdagings in 2020, aangesien die Olimpiese Spele kort ná die Wêreldreeks beslis word. Dit beteken dat spelers se werkslading bestuur sal moet word – met Soyizwapi wat straks net in agt van die tien toernooie voor die Spele in aksie sal wees.

Impi Visser sal straks in die seisoen kans kry om die Blitsbokke aan te voer. Foto: Getty Images

Juis om hierdie rede kan dit gebeur dat Stedman Gans of Impi Visser die Blitsbokke in die ander twee toernooie aanvoer. Dit sal Soyizwapi ’n ruskans gee en Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, die geleentheid gee om ander leiers in die groep in wedstrydsituasies te toets.

Visser het verlede seisoen sy debuut vir die Suid-Afrikaanse sewesspan gemaak, maar sy moontlike kapteinskap kan deur Hacjivah Dayimani in die wiele gery word.

Dayimani (22) het hom onlangs by die Blitsbokke aangesluit en sal met iemand soos Visser meeding om ’n plek in die span.

Soyizwapi geniet hoë agting onder die spelers, maar dit kan maklik gebeur dat hy, Kurt-Lee Arendse en Seabelo Senatla in ’n wedloop vir een plek in die span is.

Arendse kan homself die komende seisoen vestig in die span, terwyl Senatla nie die hele seisoen beskikbaar is nie – iets wat straks teen hom kan tel.

Haal Dayimani en Arendse die span, sal die 22-jarige Gans, ’n boorling van Vredenburg in die Wes-Kaap, straks die span aanvoer.

Stedman Gans word as ’n toekomstige Blitsbok-kaptein beskou. Foto: Getty Images

Gans se jeugdigheid kan in sy guns tel en slaag hy daarin om Powell te beïndruk, kan hy maklik in die toekoms op ’n meer permanente grondslag met die kapteinskap toevertrou word.

Daar is natuurlik ook ’n sterk leiersgroep binne die Blitsbokke, met deurwinterde spelers soos Cecil Afrika en Justin Geduld. Albei het die Blitse vantevore al aangevoer.

* Die Blitsbokke is later vandeesmaand in agtereenvolgende naweke in Kenia en Engeland in aksie.

Daar sal twee verskillende spanne gekies word, met Renfred Dazel, hulpafrigter, wat die span na Kenia sal vergesel.

Powell en Marius Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, sal die span na Manchester neem. Spelers soos Senatla en Dayimani sal straks in die toernooi in Engeland in aksie wees.

Dié twee toernooie is deel van die Blitsbokke se voorseisoen en sal Powell kans gee om hom van die spelers se spelpeil te vergewis.

Meer oor:  Stedman Gans  |  Impi Visser  |  Siviwe Soyizwapi  |  Wereldreeks  |  Sewesrugby  |  Blitsbokke  |  Kaptein  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.