Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sharks sirkel om Stormers se Kitshoff

Die Engelse klubspan Sale Sharks jag vyf Springbokke, onder wie Steven Kitshoff.

Akker van der Merwe en die Du Preez-broers, Jean-Luc, Dan en Robert, is die ander toetsspelers met wie Faf de Klerk se span onderhandel.

Die Bok-stut Steven Kitshoff tydens ’n oefensessie in Brisbane verlede jaar. Kitshoff was een van die Bokke se groot uitblinkers in 2018. Foto: getty

Daar is die week aan Rapport gesê Sale Sharks se aanbod aan Kitshoff sal moeilik deur die rooiwarm-loskopstut van die tafel gevee word. Die moontlikheid om saam met sy Bok-spanmaat Van der Merwe in die voorry van die Engelse klubspan te sak, maak dit vir Kitshoff aanlokliker.

Beweringe dat hy reeds ’n kontrak met hulle gesluit het, word egter ontken.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) poog ook om hom ’n verdere twee jaar tot ná 2021 se besoek van die Britse en Ierse Leeus hier te hou. Kitshoff kan daarom eers oor twee of drie weke sy finale besluit neem of hy hom ná die Wêreldbeker by Sale Sharks aansluit.

Hy kry ook belangstelling van Heyneke Meyer se Franse klubspan Stade Français.

Hy is vertroud met Europese toestande en die aanpassing daar oorkant is nie vir hom ’n probleem nie. Hy het sy rugby van 2015 tot 2017 by die Franse klubspan Bordeaux gespeel voordat hy met ’n Bok-kontrak teruggelok is Stormers toe.

Akker van der Merwe

Sy markwaarde het verlede jaar dramaties vanweë sy uitsonderlike en bestendige spel vir die Bokke die hoogte ingeskiet. Kitshoff moet nog eers minstens vanjaar Superrugby vir die Stormers speel, voordat hy De Klerk se spanmaat kan word.

Die Haai-haker Van der Merwe kan reeds volgende week besluit of hy Sale Sharks se aanbod aanvaar.

Hy het ook belangstelling van ’n Japanse klubspan, maar die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse spelers soos De Klerk, Rohan Janse van Rensburg, Jono Ross, Josh Strauss en moontlik Du Preez-hulle by Sale Sharks kan bepalend in sy besluit wees.

Van der Merwe het verlede jaar in drie toetse gespeel nadat hy sy toetsbuiging teen Wallis in Washington gemaak het. Dit blyk of Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Schalk Brits en Bismarck du Plessis voor hom in die Bok-tou staan. Dit kan nog ’n rede wees om oorsee te gaan speel.

Die Du Preez-broers sal as gewilde inkopies deur Sale Sharks se ondersteuners beskou word.

Robert is tans as deel van ’n korttermynkontrak De Klerk se skakelmaat.

Met hul as skakelpaar, het De Klerk-hulle onlangs met Saracens in die Engelse Premierliga afgereken. Iets wat net een keer in ’n skrikkeljaar gebeur.

Jean-Luc het ook ses wedstryde as deel van ’n korttermynkontrak vir Sale Sharks gespeel voordat ’n besering sy besoek daar kortgeknip het.

Sy tweelingbroer, Dan, het nee gesê vir ’n korttermynkontrak in Europa, maar het soos sy broers die opsie om ná die Wêreldbeker in Engeland te gaan speel.

Meyer se voormalige Engelse klub, Leicester Tigers, is tans in ’n herboufase en toon onder meer groot belangstelling in die Du Preez-broers.

Selfs die Bok-flank Francois Louw se Engelse span, Bath, wil Dan as ’n plaasvervanger vir Mike Williams bekom.

Die Du Preez-broers is egter almal eers vanjaar vir Superrugby vir die Haaie beskikbaar.

Die vyftal is nie al groot name wat deur oorsese spanne geteiken word om hul loopbane ná die Wêreldbekertoernooi oorsee voort te sit nie. Soos die geval ná 2015 se Wêreldbeker was, word daar weer ’n grootskaalse uittog voorspel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.