Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sharks soek Bok-sterre terug

’n Groep Springbokke is op hete kole oor die Sale Sharks wat glo van plan is om hulle teen middel-Mei na Engeland te laat terugkeer.

Die Springbok-slot Lood de Jager het verlede maand vir die Sale Sharks gedebuteer nadat hy aan die einde van verlede jaar ’n skoueroperasie ondergaan het. Foto: Getty Images

Lood de Jager, Faf de Klerk en die Du Preez-broers, Robert, Dan en Jean-Luc, wat almal vir die Sharks speel, het verlede maand weens die koronavirus-inperking na Suid-Afrika teruggevlieg.

Die klub wil, volgens rugbypass.com, die groep Bokke teen die middel van volgende maand in Manchester hê.

Dít is glo in afwagting op die Engelse Premierliga wat hervat kan word. Die Sharks is ná 13 wedstryde tweede op die Premierliga-puntelys.

Darren Childs, die Premierliga se uitvoerende hoof, het Woensdag in ’n verklaring gesê daar is “ná ’n reeks konstruktiewe gesprekke” besluit dat die kompetisie “sodra dit veilig is” so gou moontlik hervat sal word.

De Jager, wat die inperking saam met sy gesin in Stilbaai deurbring, sê hy het verneem dat Sale hulle wil laat terugkeer, maar hy het nog nie amptelik van die klub gehoor nie.

“Ons sal seker in volgende week iets hoor. ’n Ou weet nie wat sal gebeur as ons inperking in Suid-Afrika verleng word nie.

“Ek kan nie dink dat daar gou weer rugby gespeel sal word nie.

“Dit is maar alles baie onseker en jy kan in dié tyd net doen wat binne jou beheer is,” het hy aan Netwerk24 gesê oor die moontlikheid dat hy dalk in Suid-Afrika gestrand gaan wees.

SALFORD, ENGLAND - MARCH 06: Faf de Klerk of Sale
Faf de Klerk / Foto: Getty Images

Dié Bok-slot, ’n lid van die span wat verlede jaar die Wêreldbeker in Japan verower het, het op 21 Maart teruggevlieg na Suid-Afrika saam met sy vrou, Constance, wat hul tweede kind verwag.

De Jager het verlede seisoen die Bulle vir die Engelse Haaie verruil en het verlede maand sy debuut vir sy nuwe span gemaak nadat hy sy skouer in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland beseer het.

“Ek het so 30 minute teen London Irish gespeel en ons volgende wedstryd teen Harlequins is toe gekanselleer.

“Dis ’n frustrasie, maar ons het nou ’n heeltemal nuwe uitdaging met die virus.

“Dit is nie ideaal dat ons in Suid-Afrika is nie. Ons het in die winter in Engeland aangekom en ’n mens besef nie hoe groot die aanpassing is totdat jy dit doen nie.

“Sale stel ’n gelukkige gesinslewe voorop, wat baie lekker is en ons het net behoorlik begin tuisvoel toe ons ’n besluit moes neem.

“Ek is baie dankbaar dat die klub die vergunning aan ons verleen het (om na Suid-Afrika terug te keer).”

Ander Suid-Afrikaners soos Akker van der Merwe, Jono Ross, Coenie Oosthuizen en Rohan Janse van Rensburg is ook op die Sharks se boeke.

Nie almal het vir die inperking na hul geboorteland teruggekeer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.