Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Shimlas as wenner teen UJ verklaar
Nog een! Hanno Snyman gaan Maandag oor vir die derde van sy vier drieë teen UJ op Shimlapark in Bloemfontein in die spanne se Varsitybeker-wedstryd. Foto: Varsity Sports

Dis amptelik, die Shimlas het toe wel hul eerste oorwinning in vanjaar se Varsitybeker-reeks behaal toe hulle die Universiteit van Johannesburg met 26-25 in Bloemfontein geklop het en nie met 26-27 verloor het soos beamptes ná afloop van die wedstryd aangedui het nie.

Toe die eindfluitjie op Shimlapark geblaas het, het die tuisspan nog gemeen hy is aan die wenkant, maar sy vreugde was van korte duur.

UJ het ’n drie deur sy vleuel Siphiwe Mazibuko in die 44ste minuut bevraagteken en volgehou dat dit ’n sewepuntdrie was.

Dié drie ís aanvanklik as ’n sewepuntdrie aangedui, maar toe na ’n vyfpuntdrie verander en die wedstryd het voortgegaan.

Voor die formaliteite ná afloop van die wedstryd afgehandel kon word, het Cwengile Jadezweni, die skeidsregter, en sy assistente beeldmateriaal op aandrang van die UJ-afrigtingspan bestudeer. Hulle het toe bevind dat dit wél ’n sewepuntdrie was, wat aan UJ ’n eerste oorwinning vanjaar besorg het.

Die wedstrydbeamptes het egter fouteer.

Op beeldmateriaal van die drie kan dit duidelik gesien word dat ’n UJ-speler die bal buite die speelveld – sowat 5 m binne Shimlas se helfte – vang en ingooi na die losskakel PW Steenkamp in UJ se halfgebied. Op sy beurt laat hy die bal loop na Mazibuko, wat daarvandaan gaan druk het.

Die oorsprong van die drie was dus in die Shimlas se helfte en nie van waar Steenkamp en Mazibuko aangeval het nie.

Om ’n sewepunt-drie te druk, moet die drie sy oorsprong in die span se eie helfte hê.

Die Shimla-bestuur het dadelik na die wedstryd appèl aangeteken.

Die Varsitybeker-reeks se puntelys is Dinsdagoggend dienooreenkomstig aangepas en toon nou dat Shimlas ná ses wedstryde een oorwinning en agt punte het.

Volgens Marius van Rensburg, die voorsitter van die Shimla-rugbyklub, moes hulle volgens die reëls die appèl binne een uur ná die wedstryd aanteken.

Hoewel die oorwinning nie ’n verskil aan ons posisie maak wat vanjaar se uitspeelrondes betref nie, het ons die oorwinning nodig gehad.
Marius van Rensburg

“Ons het dit onmiddellik elektronies gedoen, omrede ons reg van die begin af redelik seker was dat dit slegs ’n vyfpuntdrie was.

“Hoewel die oorwinning nie ’n verskil aan ons posisie maak wat vanjaar se uitspeelrondes betref nie, het ons die oorwinning nodig gehad.

“Die spelers werk regtig hard en soms kom die uitslae op die veld net nie. Later voel ’n mens of hulle alles in hulle vermoë doen om nie te verloor nie, eerder as om te speel om te wen.

“Die oorwinning beteken regtig baie vir die gemoed van die bestuur, die afrigters en die spelers. Ons vat dit almal swaar as die Shimlas nie die uitslae behaal waarop ons hoop en waarvoor almal werk nie,” sê Van Rensburg.

Dewey Swartbooi, UJ se afrigter, sê dit is hartseer dat hulle die veld as wenners verlaat, maar as verloorders by die huis aankom.

“Dis ’n bitter pil om te sluk. Dis ’n groot teleurstelling, maar ek is baie trots op my spelers. Dis moeilik dat ons nou weer aan die verloorkant moes wees, maar daar is reëls,” sê Swartbooi.

“Ek is seker dis die eerste keer dat so iets gebeur en dis werklik moeilik om te sê of daar ’n beter stelsel moet wees vir só ’n situasie.

“Ek sal natuurlik wil hê dat my span moet wen as so iets gebeur, so my mening oor die stelsel sal dalk nie objektief wees nie.”

Meer oor:  Shimlas  |  Varsitybeker  |  Uj  |  Appèl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.