Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skolerugby: ‘Siek agente smous laaities’

Laerskoolkinders wat deur “agente” geteiken word, is glo die rede vir die rugbyskandaal wat verlede maand by Glenwood High in KwaZulu-Natal aan die lig gekom het.

Twee rugbyspelers by die skool word betrek by identiteitsdiefstal nadat hulle in KZN se Cravenweek vir laerskole gespeel het, terwyl hulle hopeloos te oud was vir deelname aan die toernooi.

Noël Ingle, hoof van Glenwood Preparatory en die hoof van die SA Skolerugbyvereniging (Sasra), het vroeër vandeesmaand in ’n brief verskoning gevra vir die voorval. Hy het enige skuld in die voorval ontken.

Leerlinge van Glenwood Preparatory vorder gewoonlik na Glenwood High.

Ingle het sy volle steun gegee aan ’n ondersoek van die KZN Rugbyunie. Hy sê as daar vasgestel kan word wie verantwoordelik is vir die bedrog, sal strafregtelike klagte ingestel word.

Die twee spelers wat by die saak betrek word, het verlede jaar vir KZN se o.13-span in die eindstryd van die Cravenweek teen WP uitgedraf. KZN het die wedstryd 26-24 gewen.

Volgens Ingle het die kinders “iemand anders” se identiteitsdokumente gebruik om voor te gee hulle is jonk genoeg om aan die Cravenweek deel te neem.

Die kwessie het later aan die lig gekom toe iemand opmerk daar is verskille in identiteitsnommers wat deur die spelers by wedstryde verskaf is.

Die spelers se beendigtheid is toe getoets, waarna bevind is dat hulle eintlik 16 of 17 jaar oud is.

“Die hele spul is te gesofistikeerd vir jong skoolkinders om uit te dink. Ons sal moet vasstel wie verantwoordelik is,” sê Ingle.

Robbie Kempson, afrigter van die Southern Kings, sê in sy tyd as hoof van die Oostelike Provinsie (OP) se Akademie het hy ervaar hoe talentvolle jong rugbyspelers reeds op laerskoolvlak deur “agente” geteiken is.

Omdat die spelers minderjarig is, het OP Akademie toe al probeer om eerder regstreeks met ouers te skakel en nie met agente nie, sê Kempson.

Volgens hom is daar beslis agente wat op laerskoolkinders fokus, hoewel die meeste skolespelers eers op 15 of 16 jaar agente kry om hulle te verteenwoordig.

Kempson sê die “onwettige agente” wat jong kinders teiken, “verkoop” die talentvolle spelers aan skole oor die land heen.

“Daar is baie skole, veral in KZN, wat kinders uit die Oos-Kaap ‘koop’ en dit is, om eerlik te wees, siek. Hulle sal byvoorbeeld ’n kontantbedrag soos R5 000 – wat vir sommige gesinne in die Oos-Kaap meer as ’n jaar se salaris is – vir die ouers gee.”

Skole, op hul beurt, hou volgens Kempson vol dat hulle vir dié kinders “geleenthede vir ’n beter opvoeding skep”, terwyl dit volgens hom niks anders is nie as die “doelbewuste werwing van spelers”.

Kempson meen dit is “nie toeval dat daar meer as 100 kinders uit die Oos-Kaap in skole in KZN is nie”.

En, verduidelik hy, hoewel mense meen dis ’n goeie geleentheid vir so ’n kind, moet jy jouself afvra wat met die kind gebeur wat nié die eerste span of die Cravenweek-span haal nie. “Wat doen die kind dan? Gaan hy terug Oos-Kaap toe?”

Ingle sê Sasra gaan stappe doen “om te verseker ouer spelers doen hulle nooit weer voor as jonger spelers nie”.

KZN se rugbyunie werk in dié verband saam met skole om te keer dat dit weer gebeur.

Ingle sê die SA Rugbyunie (Saru) is ook ingelig oor die voorval.

“Dit het groot gevolge vir skolerugby. Ons kan nie toelaat dat dit weer gebeur nie.”

Volgens Ingle was die voorval vir hom moeilik, “maar dit is nie ’n refleksie op die meeste spelers, afrigters en administrateurs wat ’n liefde vir rugby het en die spel met integriteit speel nie”.

Sasra sal volgens Ingle op hul volgende vergadering besluit of die uitslag van die Cravenweek-eindstryd weens die kwessie ongeldig verklaar gaan word.

Meer oor:  Cravenweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.