Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Simelane: God het my pad uitgelê

Wandisile Simelane leef sy lewe volgens twee motto’s. Een: Hy sal enige uitdaging aanvaar as dit hom gaan help om ’n beter mens of rugbyspeler te word. En twee: God het sy pad bepaal en gee hom krag vir wat ook al op sy pad kom.

Veral laasgenoemde maak 100% sin as ’n mens eers gehoor het hoe Simelane se pad na die blink liggies van sukses verloop het.

Wandisile Simelane het vir een van plaaslike rugby se beste drieë van 2020 gesorg, toe hy verlede jaar ’n rits Bulle gepypkan het om agter die doellyn te gaan kuier. Foto: Gallo Images

Want dit het alles begin by ’n laerskool wat geen verpligting gehad het om hul deure vir hom oop te maak nie – en ’n onderwyser wat onmiddellik besef hulle het die boerpot met hom geslaan.

“Rugby was nie my eerste liefde nie,” erken die 22-jarige Simelane Vrydag, ’n dag ná hy as SA Rugby se Jong Speler van 2020 bekroon is.

“Ek het eerder sokker gespeel toe ek ’n seuntjie was, en nie juis veel geweet van rugby nie. Maar toe beland ek by die Laerskool Dalmondeor en begin o.11-rugby speel.”

Dat Simelane hoegenaamd skoolgegaan het in Mondeor is iets wat hyself nie verstaan nie. Soweto, waar hy en sy maats hul middae met kaalvoet-sokker verwyl het, val immers ver buite die sone waarin Dalmondeor kan werf.

“Soos ek dit verstaan, het my pa hard baklei met die skoolhoof en departementshoofde om my daar in te kry. Hy het besluit ek sál buite Soweto skoolgaan, en dit toe laat gebeur,” sê Simelane laggend.

“Dis ’n Afrikaanse skool, of eerder dubbelmedium, so daar was nie sokker nie. Maar een van my onderwysers, Mnr. (Lenus) Swanepoel, het gesien hoe ek pouses nooit stilsit nie en my een dag gevra om te gaan rugby speel.”

Dit was net die begin van die rugbypad wat hy glo God vir Simelane beplan het.

’n Jaar later het hy die Leeus op o.12-vlak verteenwoordig, en die volgende jaar ook as o.13-speler. Sy flink voete en vaart het die oë van Jeppe Boys High se werwers getref en hy is met ’n rugbybeurs daarheen gelok.

Hy het steeds sokker gespeel – goed genoeg om vir Moroka Swallows se o.15’s uit te draf – maar ná sy draai by die Grant Khomo-week vir o.16’s besluit sy toekoms lê in die ovaalbal.

Ek het vir ’n ruk gewonder wat sou gebeur het as ek eerder sokker gekies het.
Wandisile Simelane

En hy het nooit weer teruggekyk nie.

“Ek het vir ’n ruk gewonder wat sou gebeur het as ek eerder sokker gekies het,” erken Simelane. “Ek het steeds vriende wat sokker vir ligaspanne speel en soms kom die vraag op. Maar jy weet, ek glo ook God begaan nie foute nie en hy het ’n pad uitgelê vir elkeen van ons.

“Hy het hierdie pad vir my gekies, so wie is ek om te sê X en Y sou gebeur het as ek eerder aanhou sokker speel het.”

En dit het inderdaad geen nut om sulke vrae te vra as jy so goed daarmee is om verdedigers op die rugbyveld te laat simpel lyk nie. Dít het Simelane reeds as Jeppe-skoolseun gedoen, reeds gedoen toe hy Suid-Afrika by die Junior Wêreldbeker verteenwoordig het, reeds gedoen in 2019 se Curriebekerreeks – en toe verlede jaar met ekstra oorgawe gedoen.

Hy het net twee wedstryde in die Superrugby Unlocked-reeks gespeel, maar 10 verdedigers na lug laat gryp en 153 meter veld gewen. Hy het ook die drie van die reeks gedruk: ’n skitterende individuele poging waarmee hy die Bulle se verdedigingslinie oorhoops gehad het.

In die Curriebekerreeks het Simelane aanhou amok maak. So het hy byvoorbeeld in die wedstryd teen die Haaie verby drie verdedigers geseil en weggehardloop vir ’n vierde voordat hy Tiaan Swanepoel vir ’n vyfpunter gevoer het.

Dis nou moeilik om te dink daar was net mooi ’n jaar gelede vrae oor die jongeling se toekoms, nadat hy aanvanklik langs die kantlyn moes kyk hoe sy spanmaats in die eerste rondes van die Superreeks sukkel, eerder as om gekies te word.

Maar toe kom ’n bedekte seën: die nasionale Covid-19-inperking – en die kans om sonder druk die jakkalsies uit die Simelane-wingerd te verwilder.

“Ek weet daar is baie gemaak van die feit dat ek nie gekies is aan die begin van verlede jaar se Superreeks nie, maar my fokus was daarop om te verbeter en te werk aan die klein dingetjies wat my terughou. Ek was nog nooit iemand wat my vreeslik steur aan wat mense sê of nie sê nie, en ek raak ook nie verstrengel in vrae ná ’n slegte wedstryd nie.

“Ek kyk net vorentoe, en dis wat ek verlede jaar gedoen het,” verduidelik hy.

Die SA Rugby-toekenning Donderdag het hom verras, sê Simelane.

“Maar ek is dankbaar daarvoor, dis altyd lekker wanneer mense die harde werk wat jy doen raaksien en erken,” sê hy. “Dis egter nie waarvoor ek werk nie, my hoofdoelwit is om trofeë te wen, en om dit hier by die Leeus te doen.”

Wandisile Simelane soos Leeus-ondersteuners hom verkies: met oopgesperde oë stip op die doellyn en sy voete aan die wals. Foto: Gallo Images

Vir wegtrek van Johannesburg af het die jong blits nie in hierdie stadium lus nie. Aanbiedinge verlede jaar van die Stormers en Toulouse kon hom nie weglok uit die stad waar hy mens geword het nie.

“Ek is vir die volgende twee jaar 100% toegewyd tot die Leeus,” sê hy. “Wat die toekoms inhou, sal ons maar sien.”

Vanselfsprekend hoop hy die toekoms sluit Groen-en-goud in. En vra jy hom of hy dink hy is goed genoeg om ’n Lukhanyo Am uit die kussings te lig, gee hy ’n eerlike antwoord.

“As ’n mededingende atleet kan ek nooit erken iemand is beter as ek nie,” glimlag hy. “Maar ek kyk hoe hulle speel met die doel om te leer.

“Ek het die Wêreldbeker-toernooi gekyk met die idee om te sien wat die ouens daar beter as ek doen, of waarmee ek beter as hulle is. Ek wil net beter word, so dis altyd vir my lekker om myself te toets teen wêreldkampioene.

“Ek het ’n proesel van die Groen-en-goud gehad op junior vlak, maar niks is groter as die Springbokke nie. Hopelik kom ek vroeër eerder as later daar uit.”

Meer oor:  Wandisile Simelane  |  Leeus  |  Rugby  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.