Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Simson van Suide: Croy het ysters gebuig
William Croy
William Croy voor sy huis in Bellville-Suid. Foto: Heindrich Wyngaard

Hierdie eertydse Simson van die rugbyveld met sy welige bos hare en baard is deesdae byna onherkenbaar skoon geskeer, met stoppelbaard oor die wange.

Waar ’n mens verwag dat hy teen dié tyd vanselfsprekend sy kragte as veelsydige voorspeler van ouds ingeboet het, is dit die verswakking van sy geheue wat opval. “Name is ek sleg mee,” maak hy vroeg in die onderhoud reeds verskoning. Óók oor die katarakte wat hy laat verwyder het, wat sy oë nou rooi en seer laat lyk, maar William “Balla” Croy sien in sy geestesoog sy eie onvergeetlike oomblikke op die rugbyveld steeds baie helder.

Dit is 40 jaar gelede. 1980. Esselenpark-stadion in Worcester in die Wes-Kaap.

In die kompetisies van die destydse SA Rugby Union (SARU), onder die vaandel van die nierassige Sacos, word daar vir die laaste keer om die Rhodes-beker meegeding. Die twee spanne wat in die voorwedstryd vir die gesogte SA beker tussen Boland en OP opdraf, is WP Platteland (onder Croy se leiding) en ’n “sterbelaaide” SWD met onder andere Julian Smith, woelwater-skrumskakel, strateeg, later ’n universiteitsprofessor.

“Ons manne moes oor die hele platteland reis – uit die Noordwes-Kaap, Piketberg, Wes-Boland, Lambertsbaai, Tulbagh, Clanwilliam – om drie aande van die week voor die wedstryd aan die Weskus te kom oefen.”

Dit was ’n tawwe stryd, en boonop met Smith se sielkundige spel om Croy te probeer intimideer. “Wat maak jy met dié plaasspannetjie, huh?” sou hy in die verbyhardloop vra. Maar WP Platteland kon dit steeds regkry om danksy hul voorspelerspel die knoop deur te haak.

“Die fout wat SWD gemaak het, is dat hulle gedink het Platteland se wedstrydplan gaan rondom William Croy gebou word, maar toe span ons ander spelskeppers voorlangs in.”

Die afgelope week in die sitkamer van sy huis in Sacksonstraat in Bellville-Suid, onthou Croy die groot skare by die wedstryd, ongetwyfeld een van die hoogtepunte in sy loopbaan, waartydens hy vir die Weskus-klubs Louwvenians en Saldanha Marines, vir UWK, vir die Tygerberg-unie én die laaste nasionale ­SARU-span uitgedraf het.

Dit het meer as een teenstander geneem om William Croy grond toe te bring. Die foto is in 1987 geneem.

“Dit was ’n wen wat my een van die min ouens gemaak het wat die Rhodes Cup én die SA Cup gewen het,” sê hy, peinsend, glimlaggend.

Die SA-beker-sege het hy twee jaar later, in 1982, geproe in die kleure van Tygerberg (teen Somerset-Raad) en onder die kapteinskap van Peter Jooste, ’n nasionale keurder ná eenheid. Maar die Rhodes-beker “was ’n gróte vir ons omdat ons geweet het dit was die laaste [keer dat om dié beker meegeding sou word]”.

In dié wedstryd het Croy as agtsteman diens gedoen; in die eindstryd van die SA Beker was hy die haker. Dit was deel van wat hom ’n uitsonderlike speler gemaak het: Dat hy in enige posisie, behalwe slot, in die pak kon speel. “Op die platteland het ek iets anders as in die stad ervaar. Ons was ’n familie.” En vra jy sy oudspanmaats, soos Avril Hein, sal hulle jou vertel dat Croy se leierskaprol op die veld ook aangevul is deur wat hy as sakeman in die sport belê het, soos ook onder andere dr. Nicky Fortuin.

Die rugbytalent kom van die kant van sy pa, ook William. Die bynaam “Balla” het sy oorsprong by ouma Caroline, sy pa se ma, wat “Bill” (vir William) eers in “Ou Bal” en toe in “Balla” omskep het.

“Ek was as kind die baljoggie toe my pa flank vir Bellvenians gespeel het; en ek het ook die balle gepolitoer, want toe was dit nog daai agnaat-leerballe. My ma het die truie gewas.” Naas die familie Croy is Bellville-Suid ook bekend as die tuiste van ander bekende rugbyfamilies soos die Paarwaters: Koos, Anthony, Kenneth, William, Melvin en Jerome. Die Paarwaters se ma, Hetta, is die suster van Croy se pa. En die Croys self was vier seuns en drie meisies. Dit was veral William en Richard wat toprugby gespeel het, maar wel aan verskillende kante van die draad van die ou dae se (bruin) rugbypolitiek: William vir SARU en Richard vir die Federasie, wat deel van die Danie Craven-establishment was.

Dit is ’n stuk geskiedenis wat vele families verdeel het.

Eenheid het rugby én krieket in ons gemeenskappe doodgemaak.

Family gatherings, dís waar baie probleme ontstaan het,” vertel Balla. “Die partytjie het skaars begin, dan is dit ’n gestryery, dan ’n bakleiery. Gelukkig het ons darem gou weer vrede gemaak.”

Maar tot vandag toe sorg dié ideologiese foutlyn vir sterk verskille, sê hy: “Sien, wat die Federasie-ouens nie verstaan nie, is dat jy nie kan sê wie was reg of wie was verkeerd nie. Hulle het saam met die wit ouens gespeel; ons het gesê jy kan nie voorgee dat ons nie toe ’n siek samelewing gehad het nie.”

Om sout in dié wond te vryf, meen hy, is die eenheid in sport dalk te oorhaastig deurgevoer. In die proses is nie voldoende voorsiening gemaak vir die behoud en oorlewing van gemeenskap­sport nie.

“Eenheid het rugby én krieket in ons gemeenskappe doodgemaak,” sê Croy. “En wys my waar is daar nog ’n tennisbaan in ons gemeenskappe.”

Waaroor hy ook berou het, is die “gap in my lewe”: ’n Seun wat rugby speel. “Soms as ek so stil sit, dan wonder ek nogal hoe dit sou gewees het.”

Terselfdertyd verskaf dit hom baie genot – en trotsheid – dat sy en sy vrou, Barbara, se enigste kind, Inge, die Stormers se fisioterapeut is en ewe lekker tot laat in die nag met haar pa oor die spel kan praat.

In die afwesigheid van ’n eie seun – en ook omdat hy ná sy eie speeldae as ’n afrigter vir die WP-Vodacom-, Amateur- en Disaspan diens gedoen het – is dit jong Springboktalent soos die skrumskakel Herschel Jantjies wat hom opgewonde maak.

Hier is ’n toonbeeld van ’n speler “wat wys wat in ons steek”, sê hy, amper asof hy aan sy eie speeldae terugdink: Hoe hard hy geoefen het, hoe gedissiplineerd hy was, hoe hy sy teenstanders gerespekteer het.

Dit is seker hoekom hy niks gesê het van die dag toe ou “Blatjang” hom in Groenpunt op die veld rondgejaag het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.