Heelwat werk moet nog gedoen word, maar sir Clive Woodward glo dat Frankryk die Wêreldbeker-toernooi in 2023 gaan wen.

Sir Clive Woodward voorspel dat die Franse in die volgende WB-toernooi iets vreesliks gaan wees. Foto: Getty Images
“Die Franse is nog nie die voltooide produk nie, maar ek sien ’n uitstaande generasie van briljante spelers – voor en agter – wat besig is om te groei,” skryf Woodward in sy rubriek in die Daily Mail. Hy het Engeland in 2003 afgerig toe die Rose die Wêreldbeker gewen het.
Frankryk se oorwinning van 38-21 die afgelope naweek oor Wallis in Parys het Woodward baie opgewonde gemaak.
“Antoine Dupont en Romain Ntamack het die potensiaal om die beste skakelpaar in die wêreld te word, en dan het jy nog ’n fantastiese senterpaar soos Virimi Vakatawa en Gael Fickou, driedrukkers soos Teddy Thomas en ’n towenaar soos Thomas Ramas,” skryf Woodward.
Volgens Woodward is die Franse voorspelers “groot, atleties en naar” en hy vind die spel van die haker Camille Chat “verstommend goed”.

Die losskakel Romain Ntamack het volgens Woodward die potensiaal om die beste losskakel in die wêreld te word. Foto: Getty Images

Die Franse senter Gael Fickou se spel maak Woodward, self ’n voormalige senter, baie opgewonde. Foto: Getty Images
Die breier waarsku egter dat die Franse afrigter, Fabian Galthie, en die verdedigingsafrigter, Shaun Edwards, die spelers se “loskoppe” moet vasvat.
As die Franse nie meer gedissiplineerd speel nie, sal hulle dit berou.
Die feit dat die volgende WB-toernooi in Frankryk gespeel word, tel volgens Woodward ook in die Hane se guns.
Frankryk speel Saterdag tuis teen Ierland – sy laaste Sesnasies-wedstryd. Wallis speel teen Skotland en Italië teen Engeland. Enigeen van Frankryk, Ierland of Engeland kan nog die Sesnasies-titel wen en bonuspunte en punteverskil kan nog die deurslag gee om die kampioen te bepaal.
• Frankryk het in 1987, 1999 en 2011 die eindstryd van die WB-toernooi gehaal, maar kon dit nog nooit wen nie.