Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sir Clive sê dis Engeland se kroon
Sir Clive Woodward glo Engeland gaan vanjaar die Wêreldbekertoernooi wen deur die All Blacks in die eindstryd te klop.Foto: Getty Images

Engeland gaan Nieu-Seeland in die eindstryd van vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi klop.

Dis die mening van sir Clive Woodward, wat die Rose se breier was toe sy span in 2003 as kampioen in die skouspel gekroon is.

Woodward het die naweek die voorspelling in sy rubriek in Daily Mail gemaak. Volgens hom gaan die All Blacks in die groepfase teen die Springbokke slae kry en tweede in hul groep eindig.

“My voorgevoel sê dis Engeland teen Nieu-Seeland in die eindstryd. Dis tog sekerlik ook die scenario wat die meeste ondersteuners in die rugbywêreld wil sien,” het Woodward geskryf.

Dis tog sekerlik ook die scenario wat die meeste ondersteuners in die rugbywêreld wil sien.
Clive Woodward

Hy het sy opsomming van sake gegrond op die aanname dat Engeland eerste in sy groep eindig en seges oor Australië in die kwarteind en die Springbokke in die halfeind behaal.

“Ek dink die Kiwi’s gaan teen Suid-Afrika in die groepfase vasval, wat ’n moontlike kwarteindstryd teen Ierland en dalk ’n halfeind teen Wallis of Frankryk beteken. Kom ons sê maar Wallis.

“Hoe dit ook al sy, Engeland gaan waarskynlik die taaiste roete na die eindstryd in die geskiedenis van die toernooi hê. Maar ek glo hy het die spelers en beskik oor die peil.

“Die ouens lyk skerp en slaggereed. As hulle die eindstryd haal, dink ek nie hulle gaan sommer gestuit word nie.”

Mail on Sunday se senior rugbyskrywer Nik Simon glo egter die All Blacks gaan die Webb Ellis-trofee ’n ongeëwenaarde derde keer op ’n streep omhoog lig nadat hulle Warren Gatland se Wallis in die eindstryd omgedop het.

Die All Blacks behoort Japan se aanneem-span te word nadat die gasheer uitgeskakel is.
Nik Simon

“Die All Blacks behoort Japan se aanneem-span te word nadat die gasheer uitgeskakel is. So die ondersteuning sal daar wees. Daar is miskien nie dieselfde diepte as in die verlede nie, maar die span beskik steeds oor spelbrekers en deurwinterde veterane,” het Simon voorspel.

Volgens SportsMail gee QBE Business Insurance se Rugby Predictors-stelsel die All Blacks ’n 50%-kans om hul titel suksesvol te verdedig.

In sy ontleding van al 20 WB-spanne het Woodward gesê die Kiwi’s kan “vir langer as enige span teen ’n vinniger pas speel” en het die kuns bemeester om “sleutelspelers genoeg ruskans te gee om diep in die toernooi nog ’n indruk te maak”.

Hy sê ofskoon dit op die oog af lyk asof Beauden Barrett die sleutelspeler in die span is, glo hy egter “die ou wat die toutjies trek en agterlangs sake met ’n ysterhand bestuur, is Sonny Bill Williams”.

Hy reken die opkomende ster Richie Mo’unga is van wêreldgehalte, maar dis eintlik sy stelskopwerk wat Nieu-Seeland se meeste gaan nodig hê.

Daarenteen beskik Engeland oor krag, veelsydigheid, verskerpte fiksheid, vaardighede van 1 tot 15 en diepte in sleutelposisies.

Die kaptein en stelskopper, Owen Farrell, is volgens Woodward Engeland se sleutelspeler en die jong flank Tom Curry gaan groot indruk in die WB-toernooi maak.

Sonny Bill Williams (Getty Images)
Sonny Bill Williams (Getty Images)

Die Springbokke, sê Woodward, het krag en bring ’n fisieke aanslag en kwiksilwer-spelbrekers agterlangs, maar hulle “gaan straks te stadig aanpas by uitdagende wedstrydsituasies”.

  • Uit die All Black-kamp word intussen verneem dat die gerugte oor Williams se besering blote gerugte is.

Daar was Sondagoggend sprake dat die 31-jarige senter se WB-droom aan skerwe is en dat hy deur die Hurricanes se Ngani Laumape vervang gaan word.

Die All Black-spanbestuur het dit egter ten sterkste ontken en gesê die speler gaan nêrens nie.

Williams se linkerbeen was stewig verbind tydens die All Blacks se laaste oefenkamp kort na hul aankoms in Japan, maar dit was glo ’n blote “voorsorgmaatreël”.

Die speler het Sondag na die gerugte oor sy terugkeer na Nieu-Seeland ’n foto op Twitter gedeel, waar hy in Tokio saam met sy spanmaat, die stut Ofa Tu’ungafasi, koffie sit en drink.

Die All Blacks het vroeër die dienste van die flank Luke Jacobsen verloor, wat weens simptome van harsingskudding terug huis toe is. Hy is deur Shannon Frizell vervang. – Reuters, stuff.co.nz

Meer oor:  Sonny Bill Wil­Liams  |  Clive Woodward  |  Nieu-Seeland  |  Engeland  |  Wêreldbekerrugby  |  Voorspel  |  All Blacks  |  Eindstryd  |  Rose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.