Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Siya ‘beter’, maar Rassie wik nog oor WB

Hy is tevrede met die weeklikse vordering wat Siya Kolisi as Springbok-kaptein toon, maar ná slegs ses toetse wil Rassie Erasmus hom nog nie die finale stempel as sy Wêreldbeker-kaptein gee nie.

Rassie Erasmus sê Siya Kolisi verbeter elke week in sy rol as Springbok-kaptein. Foto: Gallo Images

Die Bok-afrigter het wel sy kaptein se spelpeil as ’n baldraer in die Rugbykampioenskap ’n regmerk gegee.

Die 18 teenstanders wat hy sover geklop het, is twee keer meer as enige ander voorspeler in die toernooi. Slegs die Nieu-Seelandse vleuel Waisake Naholo (19) kon meer teenstanders klop.

“As jy verloor, veral in Suid-Afrika, is dit moeilik om na die positiewe aspekte van jou spel te kyk,” het Erasmus gesê.

“Ek aanvaar dít. Siya speel tans baie goed as ’n baldraer. Ongelukkig vir hom as kaptein kyk mense eerstens na die afrigter as jy verloor en dán na die kaptein. En dís reg.

“Hy groei nog in die rol en maak hier en daar foute. Elke dag wat ek met hom werk, kan ek iemand sien wat groei. As ons tot die Wêreldbeker bymekaar kan bly, of dan minstens hy, glo ek hy sal in ’n wonderlike leier ontwikkel.

“Hy was nog net in ses toetse kaptein. Dit is wonderlik om te sien hoe spelers soos Eben Etzebeth en Warren Whiteley hom bystaan.”

Erasmus sê Kolisi én hy maak steeds foute.

“Veral wat die bestuur van wedstryde betref. Soos byvoorbeeld daardie strafskop wat ons net voor rustyd teen die Wallabies gekry het.

“Ons kon ’n minuut geneem het met daardie skop. Toe skop ons hom in 15 sekondes oor, staan ’n strafskop af en laat hulle terug in die wedstryd. Klein dinge soos dít sal met tyd kom. Hy probeer nietemin sy beste en maak ons trots.”

Nadat sy aanwysing as die Bokke se eerste swart toetskaptein Kolisi se spel negatief in die reeks teen Engeland beïnvloed het, het Erasmus besluit om sy rol van baldief na baldraer te verander. Gemeet aan die statistieke, het dié plan gewerk.

“Hy speel nou beter en dit verbeter sy kapteinskap. Ons moet geduldig met hom wees terwyl hy ’n paar foute maak en nie vertroue in hom verloor nie. Hy werk hard daaraan.

“Ek het nog nie besluit wanneer ek ’n aankondiging (oor die Wêreldbeker-kapteinskap) sal maak nie. Totdat ons nie weet wie dit is nie en hoe ons vorentoe gaan beweeg nie, sal ons nie ’n aankondiging maak nie.”

As ’n speler kan Kolisi se werkverrigting steeds baie verbeter wanneer hy nie in besit van die bal is nie. As kaptein moet hy ook sterker leiding neem en gereelder en duideliker met die skeidsregters kommunikeer.

Veral as hy en sy spanmaats in sekere gevalle soos in die afgelope toetse teen Argentinië en Australië oortuig is die verkeerde besluit geneem is.

Toon hy nie verbetering daarmee nie, kan spelers soos Duane Vermeulen, Whiteley en Etzebeth sterker opsies as die moontlike Wêreldbeker-kaptein word.

Kolisi sou in die afgelope ses toetse leer daar is geen wegkruipplek vir die Bok-kaptein nie. Help hy ook nie Erasmus om die Bokke weer vinnig terug op die wenpad ná agtereenvolgende nederlae teen Argentinië en Australië te kry nie, sal Kolisi die vertroue van heelwat Bok-ondersteuners verloor.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.