Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Siya: Bokke nie ‘kriewelrig’ oor Bongi-kwessie

Daar is geen kriewelrigheid tussen Rassie Erasmus en sy spelers nadat hy Bongi Mbonambi verlede week in die 35ste minuut van die Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies vervang het nie.

“Die afrigter neem besluite in belang van die span,” het Siya Kolisi Vrydag, voor Saterdag se kragmeting met die All Blacks in Wellington, verduidelik.

“Ek is al verskeie kere in die 60ste minuut van toetse afgehaal, wat nie juis die gewenste situasie is nie omdat ek die kaptein is. Maar as ek moeg is in die 20ste minuut, of ek nou die kaptein is of nie, sal ek vervang word.

Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, staan die media in Nieu-Seeland te woord voor Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Wellington. Foto: Getty Images

“Daar is geen ego’s in die span nie. Of jy nou in een of 100 toetse gespeel het, dit maak nie saak nie. Dit gaan nie oor individue (in die Bok-kamp) nie. Ons sal ons bes doen om te verseker dat die span uiteindelik wen.”

Die Springbok-kaptein sê sy afrigter het die week net een versoek aan hom en sy span ná twee agtereenvolgende nederlae teen Argentinië en Australië gehad.

“Dit is dat elkeen sy beste gee. Ons moet mekaar agterna in die oë kan kyk en sê ons het ons bes gedoen. Dis wat hy wil hê, dat ons die prosesse en strukture moet vertrou en in die geveg bly.”

Die Bokke het nie spesiale veranderinge aan hul oefenprogram aangebring omdat hulle teen die wêreld se voorste span speel nie.

“Ons weet dit gaan nie maklik wees nie. Ek wil hê die span moet die heeltyd wil verbeter. Ons afronding moet verbeter. Ons skep soveel geleenthede, maar benut dit nie. Ons is ’n span wat wíl verbeter en is ontvanklik vir afrigting. Ons sal egter ons individuele foute moet beperk.”

Oor sy eie kapteinskap het Kolisi dit duidelik gestel dat hy nie bang is om weekliks te leer nie.

Die afrigter maak besluite in belang van die span.
Siya Kolisi

“Ek werk byvoorbeeld hard aan my kommunikasie met skeidsregters, veral ná wat in Mendoza teen Argentinië gebeur het. In Brisbane was ek dalk weer te veel in die skeidsregter se oor. Maar dis iets wat ek leer.

“Ek besef ek moet goed met die skeidsregters kommunikeer, want dit kan die verskil tussen wen en verloor in toetse beteken. Ek sal egter slegs met hulle kommunikeer as ek 100% seker oor my saak is.

“Ons is baie opgewonde oor die wedstryd. ’n Oorwinning in ’n wegtoets oor Nieu-Seeland sal baie vir ons selfvertroue beteken met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker. Én vir ons selfvertroue vir ons oorblywende toetse in die Rugbykampioenskap.”

Siya Kolisi en sy Bok-spanmaats oefen vir oulaas in Wellington voor Saterdag se stryd in die Westpac-stadion. Foto: Getty Images

* Nie die Bok-kamp of die Suid-Afrikaanse Rugbyunie wou Vrydag enige kommentaar lewer op Cosatu se nuusverklaring Donderdag waarin hy sê wit spelers kry spesiale behandeling by Erasmus nie.

Volgens Cosatu word swart spelers as tweederangs behandel. Cosatu het Erasmus daarvan beskuldig dat sy beginspan vir Saterdag vol wit spelers is, wat sy houding jeens swart spelers verklap.

In die verklaring voer Cosatu onder meer aan verskeie wit spelers met ’n swak spelpeil, soos Faf de Klerk, Handré Pollard en Willie le Roux, kry voorkeur bo swart spelers.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Cosatu  |  Bokke  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.