Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Siya: Bokke wil wys hulle het meer as 1 treffer
Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi. Foto: Getty Images

Die Springbokke moet Saterdag op Twickenham en in die ander toetse op hul jaareindtoer wys die skoksege oor die All Blacks in Nieu-Seeland was nie ’n eenmalige gelukskoot nie, sê Siya Kolisi, die Bokke se kaptein.

Suid-Afrika pak Engeland op Twickenham nadat hy in Junie die toetsreeks tussen dié spanne met 2-1 gewen het (in Suid-Afrika).

Die Bokke het daarna internasionale rugby se opskudding van die jaar in Wellington gelewer toe hulle die All Blacks in die Rugbykampioenskap verslaan het.

Nou, meen Kolisi, moet die span wys hy kan meer gereeld weg van die huis af wen.

“Die toer sal ons seisoen in perspektief plaas. Dit is ons laaste vier toetse van die jaar en dan is daar net nog vier (in 2019) voordat die Wêreldbeker-toernooi begin.”

Dit is belangrik om wegtoetse te wen en die toer sal ons ’n idee gee hoe baie ons gevorder het vanjaar.
Siya Kolisi

“Dit is belangrik om wegtoetse te wen en die toer sal ons ’n idee gee hoe baie ons gevorder het vanjaar.”

Die Bokke se vertonings oorsee die afgelope twee seisoene is ’n somber affêre en daar was soveel laagtepunte dat jy nie weet wat die ergste was nie – die 0-57-slagting teen die All Blacks in Albany, die rekordnederlaag van 3-38 teen Ierland in Dublin (albei in 2017) of die eerste nederlaag in die geskiedenis teen Italië in 2016?

Kolisi het in Albany en Dublin gespeel, maar hy verseker die 2018-Bokke is ’n ander span.

“Ons is op ’n baie beter plek in vergelyking met ’n jaar gelede en die sege oor die All Blacks het ’n groot rol gespeel. Ek het gedink ons het daarna in Pretoria nog beter teen hulle gespeel, maar het verloor.

“So, ons het baie gegroei, maar kan nog baie verbeter.”

Twickenham in Londen. (Foto: Getty Images)

Dit is môre Kolisi se 38ste toets vir Suid-Afrika, maar sy eerste op Twickenham.

Is die plan om die meer as 80 000 Engelse ondersteuners vroeg stil te speel?

“Wel, ek wil nie ons planne verklap nie, maar dit is mos altyd beter om goed te begin,” het die Bok-kaptein met ’n glimlag gesê.

“Ons weet hoeveel dit beteken as ons by die huis voor vol stadions speel. Dit is my eerste toets op Twickenham en dit is iets waarna ek baie uitsien.

“Ek was hier vir die WB-toernooi, maar het nie gespeel nie. Die atmosfeer gaan ongelooflik wees.”

Die toerspan het die week trietsige Londense weer getrotseer, maar daar was Vrydag nie ’n wolk in die lug nie.

Kolisi sê hulle is voorbereid vir sonskyn- of eendeweer.

“Ons het die week voorberei vir ’n droë én nat veld. Jy moet beheer wat jy kan, maar ons sal ons spel kan afwissel na gelang van die toestande.”

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Jaareindtoer  |  Rose  |  Springbokke  |  Toets  |  Rugby  |  Twickenham
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.