Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Siya smeer salf aan WP se wonde
Dis glimlagte oral met Siya Kolisi (naaslinks) op die oefenveld vir die Westelike Provinsie in Bellville Maandag. Links is Scarra Ntubeni, naasregs SP Marais en heel regs Ernst van Rhyn.Foto: Gallo Images

Of Siya Kolisi fiks genoeg gaan wees om Saterdag vir die Westelike Provinsie diens te doen, is nog onduidelik, maar die goeie nuus is dat die Springbok-kaptein terug op die oefenveld is en nie meer hinkepink loop nie.

Soos vir die Springbokke op Ellispark Saterdag, is sy blote teenwoordigheid vir die Streeptruie inspirerend – meer so in ’n week waar hulle onder druk is om weer die perd op te saal ná die afgelope naweek se nederlaag van 27-32 teen die Haaie in Durban.

“Dis regtig goed om vir Siya by ons te hê. Hy is in ’n goeie luim en dis lieflik dat hy hom by ons kon aansluit,” sê Dan Kriel, wat na verwagting as die Streeptruie se binnesenter gaan opdraf in Saterdag se wedstryd teen die Goue Leeus op Nuweland.

Dis regtig goed om vir Siya by ons te hê. Hy is in ’n goeie luim en dis lieflik dat hy hom by ons kon aansluit.
Dan Kriel

Volgens Dawie Snyman, die WP se agterlynafrigter, het Kolisi – ongeag of hy fiks is – ’n belangrike rol om te vervul.

“Die lekker ding van Siya is dat hy altyd iets sal bied. Oor die naweek was hy vir die Bokke ’n waterdraer en hy sal nou insette by ons vergaderings lewer, en help waar hy kan,” sê Snyman.

“Dit sal ’n bonus wees as hy kan speel en ons hom die geleentheid kan gee om wedstrydfiks te raak vir ’n paar van die Bokke se toetse.”

Die WP se bestuurspan sal hom uiteindelik laat lei deur die mediese span en die Bok-bestuur se behoeftes, voordat ’n besluit oor Kolisi geneem word.

Sonder Kolisi het die WP allermins ’n swak losvoorspeler-kombinasie. Sikhumbuzo Notshe gaan waarskynlik op agtsteman terugkeer ná sy reuse-impak as plaasvervanger teen die Haaie, wat kan beteken dat Jaco Coetzee dit met Ernst van Rhyn om die rol van nr. 6-flank gaan uitspook. Daar gaan waarskynlik met JD Schickerling op steelkantflank volhard word.

Dillyn Leyds

Die veelsydige Dillyn Leyds, wat die afgelope naweek ’n Springbok-plaasvervanger was, is ook terug en behoort óf op vleuel óf heelagter te begin, maar dis nog onseker of die blits Sergeal Petersen fiks gaan wees.

’n Inspuiting van ervaring kan vir die WP op ’n kritieke tydstip van die reeks ’n groot hupstoot wees ná die nederlaag teen die Haaie. Die Streeptruie het balbesit en veldgebied in Durban oorheers én in die skrums die kitaar geslaan, maar hulle teen rotsvaste verdediging vasgeloop.

“Ons sou graag meer wou doen met 65% van die balbesit en 62% wat gebiedsvoordeel betref. Dit kom neer op individuele foute en besluitneming (in die Haaie se helfte),” sê Snyman.

“Ons foute en swak skoppe het ons onder druk geplaas. Die Haaie het weens ons swak skoppe ’n paar drieë aangeteken. Daar was ’n onderskepdrie en ’n simpel strafskop, wat veroorsaak het dat die wedstryd ’n tree te ver buite ons bereik geneem is.”

Selfs al was daar die tipe slordige aangeë met een hand wat afrigters in hul losies ’n duisend dode laat sterf, sê Snyman hulle wil die spelers aanhou aanmoedig om die bal lewend te hou.

Dan moet ons die spelers op die oefenveld in soortgelyke situasies plaas, waar hulle kan leer om die regte besluite te neem.
Dawie Snyman

“Spelers moet kennis neem of hulle in beheer is van die bal in kontak en of daar goeie ondersteuning langs hulle is. Dan moet ons die spelers op die oefenveld in soortgelyke situasies plaas, waar hulle kan leer om die regte besluite te neem,” sê hy.

“As jy die bal van die grond af kan hou en ’n drukaangee agter die verdediging maak, vergemaklik dit jou aanvallende spel.”

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Kaapstad  |  Springbok-Kaptein  |  Rugby  |  Wp  |  Curriebekerreeks  |  Streeptruie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.