Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Siya: WP is nie volwasse genoeg
Die WP-vleuel Seabelo Senatla bars verby die Leeus se Tiaan Swanepoel om sy span se enigste drie van die dag te gaan druk. Senatla het later ’n kniebesering opgedoen wat hom beslis uit die WP se volgende wedstryd sal hou. Foto: Gallo Images

Dit was geen verrassing dat Siya Kolisi die media Saterdagaand ná die Westelike Provinsie se nederlaag teen die Leeus met ’n dikmond te woord gestaan het nie.

Die verrassing was eerder hoe kaalvuis die WP-kaptein onder sy span ingeklim het – met woorde soos “verveeld” en “nie volwasse genoeg” wat meer as een keer uit sy mond gekom het.

Die Kapenaars het op Ellispark vir die tweede keer in soveel wedstryde in die doodsnikke verloor, nadat die Leeus hulle vir die laaste tien minute soos ’n bom getref het. Die tuisspan was ná 67 minute op die agtervoet op 9-19, voor hulle die bordjies met ’n wonderlike individuele drie deur Stean Pienaar en twee strafskoppe deur die kanonpoot Tiaan Swanepoel verhang het.

Swanepoel het die laaste drie van sy 17 punte in die laaste minuut aangeteken om Leeus met 22-19 oor die wenstreep te kry.

“Dis aaklig om so te verloor,” het Kolisi gesê. “Ek kan dit nie in woorde sit nie, want jy werk so hard vir 60 of 70 minute en dan (kos) klein dingetjies jou, soos om af te wyk van die plan. Ons het ’n plan gehad, maar toe ons daarvan wegstap, het die Leeus die voordeel begin neem.

Siya Kolisi was Saterdagaand nie ’n gelukkige man nie. Foto: Gallo Images

“Dis moeilik, want foute word gemaak en dis alles dinge wat ons kan regstel. ’n Aanslaan hier, ’n individuele fout, ’n aangee wanneer dit nie aan is nie . . .

“Ons gaan baie meer volwasse moet wees. Ek dink ons raak verveeld in die plan en probeer dinge buite dit. Ons kom in die 22 en dan probeer iemand iets skouspelagtig of loods ’n skop wat nie beplan is nie. Dis nie goed nie, want dan is almal nie op dieselfde bladsy nie.

“Ek dink ons (die WP se leiers) moet beter leiding gee, want ons het nie soveel senior spelers in die agterlyn nie. Ek, (Steven) Kitshoff en Frans (Malherbe) moet so veel ons kan daar uithelp.”

Kolisi se ongelukkigheid met spelers wat “buite die plan” probeer speel, is veral interessant as dit vergelyk word met die Leeus se beskouing van Pienaar se drie.

Die jong vleuel het in die 71ste minuut net binne die WP-22 ’n vinnige tikskoppie geneem en verby die grypende hande van drie verdedigers gestorm vir ’n drie wat die momentum heeltemal in sy span se guns geswaai het.

Dit was opportunisme wat sterk herinner het aan die gloriejare toe die Leeus die beste span in die land was, maar die Leeus-afrigter, Ivan van Rooyen, is nietemin gevra of sulke individuele besluite deur spelers hom pla.

“Ons raai nie sulke besluite af nie,” het Van Rooyen gesê. “As die ouens voel dis aan, kan hulle daardie besluit neem. Ons moedig dit aan.”

In WP-geledere is daar natuurlik ook vlugvoetige agterspelers wat verdedigingslinies oorhoops kan hardloop – soos hulle in die 52ste minuut bewys het.

Uitmuntende samespel tussen die Blitsbokke Seabelo Senatla en Ruhan Nel het die verdediging oopgekloof en ’n drie vir Senatla opgelewer. Hoewel daar vrae was oor obstruksie, het die drie gestaan.

Senatla het egter nie weer die kans gekry om sy talente uit te stal nie, met ’n knieligament-besering wat hom kort daarna van die veld gedwing het. Sy afrigter, John Dobson, het Saterdagaand reeds gesê hy sal nie Vrydag teen die Pumas kan speel nie.

Senatla is die tweede agterspeler in twee wedstryde wat die WP aan ’n besering afstaan, met Warrick Gelant se toernooi wat verlede week tot ’n einde geruk is.

Voorlangs het die fisieke aard van die wedstryd ook ’n groot tol van die WP geëis, met vyf voorspelers wat in die loop van die wedstryd van die veld moes gaan.

“Bongi (Mbonambi) het ’n stamp weg en Neethling Fouché is hospitaal toe en ons dink hy het ernstige harsingskudding. Salmaan Moerat het harsingskudding, Trokkie Augustus het harsingskudding en Scarra (Ntubeni) is ook beseer van die veld af. So ons het gróót beseringsprobleme in die wedstryd gehad,” het Dobson gesê.

Een ding waaroor die WP-breier nie ’n moordkuil van sy hart gemaak het nie, was die aantal strafskoppe wat sy span by die skrums afgestaan het. Hy het duidelik nie met al die skeidsregter, Griffin Colby, se besluite saamgestem nie.

“Ons het in hierdie wedstryd omtrent soveel skrum-strafskoppe afgestaan soos die hele seisoen, so ons sal gaan kyk of dit geregverdig was. Ons was regtig gefrustreerd by die skrums, want daar was drie strafskoppe teen ons terwyl ons gedink het ons is in beheer,” het Dobson gesê.

Die WP se volgende wedstryd is Vrydag op Nuweland teen die Pumas. Kolisi het gesê hy “twyfel glad nie dat ons al die toutjies weer bymekaar kan trek nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.