Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skadu’s van Eben, Aphiwe volg Bokke

Die Springbok-bestuur kan hulle maar solank vetsmeer om geroskam te word oor van die donker skaduwees wat saam met die groep op die vliegtuig geklim het na Japan vir die Wêreldbeker-toernooi.

So asof ’n nare afskeidsgeskenk, het die Bokke Vrydag enkele ure voordat hulle op die vliegtuig geklim het om via Singapoer na Japan te vlieg, die nuus gekry dat die vleuel Aphiwe Dyantyi se B-monster vir die gebruik van ’n verbode middel ook positief getoets het.

Eben Etzebeth teken Vrydag die hemp van Saul Jordan, ’n Springbok-ondersteuner, buite hul spanhotel in Fourways voor die span na die O.R. Tambo-lughawe vertrek het om na Japan te vlieg. Foto: Deaan Vivier

Al was Dyantyi die laaste twee maande uit aksie en het hy nog nie vanjaar toetsrugby gespeel nie, was hy verlede jaar ’n integrale deel van die span en sou hy gewis ’n vanselfsprekende keuse gewees het in die Wêreldbekergroep, as hy nie vroeër vanjaar sy dyspier beseer het nie.

Die moontlikheid is nou sterk dat hy geruime tyd uit rugby geskors kan word en dat sy baie belowende loopbaan op die ys geplaas sal word.

Die ander skaduwee wat net nie wil wegggaan nie, is die Eben Etzebeth-debakel, weens ’n voorval verlede naweek in Langebaan.

Etzebeth word van aanranding en rassisme beskuldig en klagte is by die polisie sowel as die Menseregtekommissie (MRK) gelê.

Sammy Claassen, ’n gemeenskapsleier van die Weskus, het die klag teen Etzebeth by die MRK ingedien en beweer dat dié Bok na mense in Langebaan as h**n*s verwys het.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Vrydagoggend bevestig dat Etzebeth Donderdag met die MRK in Johannesburg vergader het.

Volgens Saru het die MRK aan Etzebeth verduidelik watter rol hy speel wanneer só ’n klag ontvang word en wou hy verseker dat Etzebeth daartoe instem om saam te werk met die kommissie.

Etzebeth het aan die MRK gesê hy is onskuldig, maar sal sy volle samewerking gee in die kwessie, lui ’n Saru-verklaring.

Hoewel Etzebeth sê hy’s onskuldig, gaan daar in Japan bontgestaan moet word om die vure oor hierdie storie dood te slaan.

Veral die feit dat daar beweerde rassisme betrokke is, kan ’n baie ongemaklike situasie vir die span skep en die wêreldmedia sal dit by elke moontlike geleentheid oprakel.

Matthew Proudfoot, die Bokke se voorspeler-afrigter, het egter Vrydag by die Bokke se afskeidsgeleentheid by die O.R. Tambo-lughawe dit duidelik gestel dat hy nie glo hierdie aangeleentheid ’n negatiewe invloed op die groep en hul aanslag sal hê nie.

“Wat ons betref, is die kwessie afgehandel en ons ken Eben as ’n eerbare mens. Wat gebeur het, het gebeur en ons fokus net op die taak wat voorlê. Hy het sy kant van die saak gestel en ons aanvaar sy woord,” het Proudfoot gesê.

Etzebeth het met ’n glimlag op sy gesig saam met ondersteuners van alle kleure poseer vir foto’s en ook handtekeninge uitgedeel en gesprekke aangeknoop.

Hy het selfs ’n sjokoladestafie van ’n vroulike ondersteuner ontvang.

Uit ’n Bok-oogpunt kan daar net gehoop word dat die woorde van Pieter-Steph du Toit nie profeties sal wees nie.

Hy is deur die seremoniemeester van die afskeidsgeleentheid gevra om ’n grap te vertel.

“’n Grap?” wou hy weet. “Hier is die grap,” het hy glimlaggend gesê en na Etzebeth gewys wat langs hom sit.

Meer oor:  Bokke  |  Eben Etzebeth  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.