Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Will dalk 1ste om Saracens te groet

Die Wallaby-slot Will Skelton is glo voor in die ry om by die Saracens te groet nadat dié beleërde klub sy Engelse Premierliga-status verloor het.

Mark McCall, Saracens se direkteur van rugby, het Sondag bevestig die klub se sterbelaaide groep sal nie behou kan word nie.

Die slot Will Skelton kan straks een van die dae weer in die Superrugby-kompetisie in aksie wees. Foto: Getty Images

Dit het verlede jaar aan die lig gekom dat Saracens die salarisperk van Engelse rugby oortree het.

Saracens het boonop nie oop kaarte gespeel oor van sy spelers se vergoeding nie.

Dié klub is onlangs die keuse gegee om sy boeke voor te lê vir ’n forensiese oudit en die trofeë wat Saracens in 2018 en 2019 gewen het terug te gee óf relegasie uit die Premierliga te aanvaar.

Die tweede opsie is aanvaar.

Sterre soos Owen Farrell, Engeland se kaptein, Maro Itoje en die Vunipola-broers, Billy en Maku, sal na verwagting teen Mei nie meer vir Saracens beskikbaar wees nie.

Die Bulle wil die Springbok-vaskopstut Vincent Koch, wat sedert 2016 vir Saracens speel, kontrakteer.

Daar word verneem Saracens het die Blou Bulle Maatskappy (BBM) in kennis gestel hy is nie van voorneme om Koch van sy kontrak te onthef nie.

“Daar gaan natuurlik veranderinge kom,” het McCall, wat aangedui het dat hy by Saracens aanbly, gesê.

“Geen twyfel nie, baie van die spelers sal nie volgende jaar in die groep wees nie.

“In talle opsigte is dit die einde van ’n era wat dateer na 2009.

“Ons het nou tyd om te beplan vir ’n nuwe era, ’n nuwe pad en dit is as ’n mens optimisties na die saak kyk,” het McCall gesê.

Skelton (27), wat 18 keer vir die Wallabies gespeel het voordat hy Engeland toe is, kan een van die eerste spelers wees wat van sy kontrak onthef word, gegewe dat hy nie vir die Rose kan speel nie.

Sy kontrak beloop ook nagenoeg £400 000 per jaar (sowat R7,5 miljoen).

Dit bring mee dat Skelton binnekort na Australië kan terugkeer om Superrugby te speel.

Scott Johnson, Rugby Australië (RA) se direkteur van rugby, het aan The Australian gesê hulle sal die groot slot graag wil teruglok huis toe.

“Ek kan nie sien hoe hulle daardie span bymekaar kan hou nie en omdat hy (Skelton) nie vir Engeland kwalifiseer nie, sal hy van die eerste spelers in die kollig wees.

“Ons het met sy agent gepraat en ons sal groot gaan die week.”

Johnson sê Skelton sal tussen internasionale ambisie en geld moet kies.

“Ons het ’n realistiese kans om hom terug te bring, sou hy wil terugkom.

“Hy sal moet besluit wat die belangrikste is, geld of sy loopbaan.

“Ons kan nie met daardie geld (wat Europese klubs aanbied) meeding nie, maar ons sal ’n goeie aanbod kan maak.

“Ek soek egter net spelers wat ’n verskil kan maak,” sê Johnson.

Altesame sewe spelers van Saracens, Farrell, Itoje, Jamie George, Mako Vunipola, Elliot Daly, George Kruis en Ben Earl is vandeesweek in Eddie Jones se groep van 34 vir die Sesnasies-reeks aangewys. – www.foxsports.com.au, Sportredaksie

Meer oor:  Saracens  |  Engelse Premierliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.