Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skok en woede oor Kings-likwidasie
Barend Pieterse, ’n voormalige hulpafrigter van die Kings, sê hy voel “kwaad” omdat die Kings al weer gevou het. Foto: Gallo Images

En daar herhaal die geskiedenis hom – nóg ’n groep spelers wat by die Southern Kings gekontrakteer is se salaris-kraantjie word eenvoudig net toegedraai.

Nes in 2015, toe die Kings-franchise weens finansiële probleme gewankel het, is dit die spelers wat nou weer aan die kortste ent trek.

Die aankondiging Saterdag dat die Kings-franchise in vrywillige likwidasie gaan, beteken ook dat die spelers verlede maand hul laaste salarisse gekry het.

Nes in 2015 gaan die spelers hulle na die hof wend, maar die geskiedenis het al gewys dat hulle nie veel kan verwag nie.

“Ek is in 2015 self deur die proses, so ek weet watter traumatiese ervaring dit is,” sê die oud-speler Ronnie Cooke, wat verskeie van die huidige spelers se agent is.

“Die manne is verslae. Hulle het eenvoudig hierdie naweek gehoor hulle kry nie weer geld nie.”

Volgens Cooke is van die spelers reeds besig om ander blyplek by familie te soek. Hulle moes ook inderhaas met skuldeisers probeer reëlings tref.

“Anders as wat party mense dink, verdien spelers wat vir die Kings speel nie juis ’n fortuin nie. Dis nie asof die ouens ’n groot neseier het wat hulle nou kan gebruik om die gate toe te stop nie,” sê Cooke.

Barend Pieterse, ’n voormalige hulpafrigter van die Kings, sê “dis nie hoe mense moet lewe nie”.

Pieterse sê hy is lief vir die Oostelike Provinsie en die Kings, maar hy kan nie glo dat rugby in die gebied al weer in ’n krisis is nie.

Loffie Eloff wonder wat gaan nou word van al die talentvolle spelers in die Oos-Kaap. Foto: Facebook

“Dit maak ’n mens kwaad. Hoe kan so iets weer gebeur?” vra hy.

Pieterse gaan volgende jaar help om die Madibaz af te rig in die Varsitybeker-reeks.

“Ons het gehoop om van die Kings se jonger ouens by die Madibaz te betrek, maar van hulle wil nou net weg,” sê hy.

Loffie Eloff, ’n gesoute breier wat in 2014 die Grens-Bulldogs help afrig het, reken “swak leierskap” is rugby in die Oos-Kaap se ondergang.

“Dis tragies. Dis absoluut skokkend dat spelers so behandel word. Daar moet ’n behoorlike ondersoek gedoen word,” sê hy.

“Die vraag is hoe gaan spelers in die Oos-Kaap dit nou regkry om raakgesien te word?”

Eloff verwys na die Springbok-vleuel Makazole Mapimpi, wat “seker nou nog” vir Grens sou gespeel het as hy nie destyds ’n kans by die Kings gekry het om sy talent op Super-vlak uit te stal nie.

“Maar dis dalk tyd dat die Oos-Kaap leer om homself vis te voer en om nie te wag dat almal hom vis voer nie,” gebruik Eloff beeldspraak om sy frustrasie met rugby in dié gebied te verwoord.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Southern Kings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.