Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skoletoernooie skud reeds vere reg vir 2021
Die Hoërskool Monument se Henco van Wyk word platgetrek in sy span se wedstryd teen Paarl Gimnasium by 2019 se Noord/Suid-toernooi. Foto: Marius Nortjé

Terwyl skolerugby in die res van 2020 waarskynlik niks meer as ’n vae moontlikheid is nie, kan ondersteuners solank hulle lippe begin aflek vir twee van volgende jaar se groot toernooie.

Lees ook: Huldeblyk aan SA skolerugby

Die 12de weergawe van die jaarlikse Wildeklawer-rugby- en netbaltoernooi het ’n nuwe datum gekry en sal van 23 tot 26 April by die Hoërskool Diamantveld in Kimberley aangebied word.

Volgende jaar se toernooi sal egter ’n nuwe geur hê, met ’n bykomende o.16-netbaltoernooi, waaraan 12 spanne sal deelneem.

Volgens Jannie van der Westhuizen, voorsitter van Wildeklawer, sal Absa volgende jaar finansieel tot die toernooi bydra.

“Absa het as medeborg toegetree en die moontlikheid om nog meer sportsoorte by dié toernooi te voeg in die toekoms, word tans ondersoek.”

Altesaam 20 senior rugbyspanne en 12 senior netbalspanne sal hul slag volgende jaar hier wys, met die laerskole se toernooi wat direk na die hoërskole s’n sal volg.

Die publiek kan na baie mededingende, maar ook aanskoulike wedstryde uitsien wanneer die beste talent in die land mekaar aandurf,
Jannie van der Westhuizen

Ofskoon die openingseremonie reeds op 23 April gehou sal word, sal die wedstryde op 24 en 26 April beslis word.

“Die wedstrydbepalings sal so gou moontlik gepubliseer word, maar die publiek kan na baie mededingende, maar ook aanskoulike wedstryde uitsien wanneer die beste talent in die land mekaar aandurf,” het Van der Westhuizen bygevoeg.

In Gauteng sal die Noord/Suid-rugbytoernooi, wat in Maart gekanselleer moes word weens die nasionale inperking, volgende jaar van 26 tot 30 Maart gehou word.

Dit sal dié sewende keer wees wat dié toernooi, wat wyd as ’n kleedrepetisie vir die Wildeklawer-toernooi beskou word, sal plaasvind.

Organiseerders het reeds die voorlopige bepalings vir dié toernooi bekend gemaak, met verskeie liplek-lekker wedstryde om na uit te sien.

In dié stadium sal die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), Grey-kollege, Helpmekaar Kollege, Hoër Tegniese Skool Middelburg, Paarl Gimnasium, Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), Hoër Landbouskool Oakdale, Welkom Gimnasium, asook die Hoërskole Dr. EG Jansen, Duineveld, Durbanville, Garsfontein, Menlopark, Monument (Monnas), Noordheuwel, Outeniqua, Stellenberg en Waterkloof almal in aksie wees.

Die wedstryde tussen Garsfontein se Bere en Paarl Gimnasium, asook Monument se kragmeting met Boishaai, sal vir vuurwerk sorg op die eerste dag.

Vir Monnas en die Helpies sal 2021 boonop ’n spesiale seisoen wees, met albei dié Gautengse skole wat hul eeufees sal vier.

2021 Noord/Suid-toernooi se voorlopige bepalings:

Dag 1: Affies t. Oakdale Landbou; EG Jansen t. Welkom Gimnasium; Garsfontein t. Paarl Gimnasium; Helpmekaar Kollege t. Outeniqua; HTS Middelburg t. Stellenberg; Menlopark t. Grey-kollege; Monument t. Hoër Jongenskool Paarl; Noordheuwel t. Durbanville; Waterkloof t. Duineveld.

Dag 2: Duineveld t. HTS Middelburg; Durbanville t. Waterkloof; Grey-kollege t. EG Jansen; Hoër Jongeskool Paarl t. Noordheuwel; Garsfontein t. Oakdale Landbou; Menlopark t. Outeniqua; Helpmekaar Kollege t. Paarl Gimnasium; Monument t. Stellenberg; Affies t. Welkom Gimnasium.

 
Meer oor:  Jannie Van Der Westhuizen  |  Suid-Afrika  |  Skolerugby  |  Wildeklawer  |  Noord/Suid  |  Toernooie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.