Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skoppers kan Varsitybeker bepaal
Zander du Plessis in aksie vir Tuks in ’n Varsitybeker-wedstryd teen Maties in 2020 in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

In die pylvak van die Varsitybeker-rugbyreeks kan dit maklik gebeur dat ’n stelskopper soos Zander du Plessis (Tuks) bepaal wie aan die einde van die maand as kampioen van dié reeks gekroon word.

Du Plessis het sy span Maandag in Pretoria van skandes gered deur in die doodsnikke ’n strafdoel deur die pale te jaag om die sukkelende Shimlas met 42-39 te klop.

Ook in die vorige borrel het Keagan Fortune (losskakel) reg teen die einde drie punte met ’n strafdoel bygevoeg vir die Noordwes-Universiteit (NWU) om Wits met 22-20 te troef.

Zander du Plessis kan moontlik die seisoen afsluit as die voorste puntemaker in die geskiedenis van die Varsitybeker-reeks. Foto: Gallo Images

Die 21-jarige Du Plessis, wat as heelagter of losskakel kan diens doen, het kort voor daardie skop ’n maklike geleentheid verbrou.

“Ek dink omdat dit eintlik ’n maklike skop was, het ek effens my konsentrasie verloor. Maar ek het dadelik geweet wat ek verkeerd gedoen het en het darem nog ’n kans gekry,” sê hy.

Diegene wat skolerugby volg, sal vertroud wees met die skopvoet van Du Plessis, ’n oudleerling aan Grey Kollege in Bloemfontein.

As skolier was hy bekend as ’n losskakel wat die Vrystaat in 2018 op die Cravenweek-toernooi vir o.18-spanne verteenwoordig het. Deesdae is hy ewe gemaklik met ’n nr. 15 op sy rug.

Dit was as kind saam met sy broer dat hy begin rugby speel en waar die gogga hom gebyt het.

“Die ding wat lekker is van rugby, is dat jy dit in spanverband doen. Dit is jy en jou vriende,” sê Du Plessis.

“Selfs wanneer jy dalk nie ’n lekker dag gehad het nie, is dit lekker om saam met jou vriende te wees en saam te oefen.”

Demetri Catrakilis tydens die eindstryd van 2011 se Varsitybeker-reeks. Die Ikeys het Tuks daardie dag met 26-16 in Pretoria geklop. Foto: Gallo Images

Du Plessis is tans met 104 punte die voorste puntemaker in vanjaar se reeks. James Tedder (Ikeys) is in die tweede plek met 77, gevolg deur Fortune (62) en Charles Williams (Ixias) met 55.

Die Pretorianers het nog twee wedstryde oor voor die uitspeelrondes en Du Plessis kan straks nog ’n mylpaal losskop. Hy het reeds teen die Shimlas Wesley Dunlop se rekord vir die meeste punte vir Tukkies in ’n Varsitybeker-seisoen verbygesteek. Dunlop het in die 2011-seisoen 103 punte aangeteken.

Demetri Catrakilis pronk boaan die lysie vir voorste puntemakers in die geskiedenis van die reeks. Hy het 136 punte in 2011 in ’n Ikey-trui aangeteken – ’n teiken wat binne Du Plessis se bereik is.

Donderdag se wedstryd tussen die onoorwonne Ikeys en die NWU is in alle waarskynlikheid ’n reg-of-weg-kragmeting vir die Potchefstromers. Hulle bevind hulle met 19 punte in die vyfde plek op die puntelys.

Oorwinnings, verkieslik met ’n bonuspunt of twee, in hul laaste drie wedstryde (hulle kom ook nog teen die Ixias en die Universiteit van Johannesburg (UJ) te staan), behoort genoeg te wees om ’n plek in die halfeindronde te verseker.

Donderdag se bepalings:

Tuks se B-veld: 14:00: Wits t. Shimlas, 16:00: Madibaz t. Tuks (albei regstreeks op now.dstv.com, kanaal 245).

Tuks-stadion: 15:00: Maties t. UJ, 17:00: UWK t. Ixias, 19:00: Ikeys t. NWU (alles regstreeks op SS Rugby, Variety 2, GDN).

Meer oor:  Ikeys  |  Rugby  |  Pretoria  |  Tuks  |  Varsitybeker  |  Zander Du Plessis  |  Demetri Catrakilis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.