Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Skoppers sal straks Leeus-reeks bepaal’

In 1997 was stelskopwerk straks die beslissende faktor in die reeks tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus en in 2009 was dit Morné Steyn se skopstewel wat die tweede en deurslaggewende toets op Loftus Versfeld beklink het.

Morné Steyn is onsigbaar onder ’n trop Springbok-spanmaats wat hom gelukwens nadat hy as ’n impakspeler die strafdoel oorgeskop het om 2009 se reeks in Suid-Afrika se guns te beklink. Foto: Getty Images

’n Soortgelyke scenario gaan hom vanjaar weer afspeel, voorspel Neil Jenkins, die Leeus se skopafrigter.

Einste Jenkins se akkurate stelskopwerk het in 1997 se tweede toets op Kingspark ’n groot rol gespeel om die reeks te beklink.

Hy het met vyf strafdoele geslaag en Jeremy Guscott met ’n skepdoel. Die Bokke het oorheers, maar steeds met 15-18 verloor nadat André Joubert, Henry Honiball en Percy Montgomery tussen hulle ses skoppe pale toe verbrou het.

Toe Jannie de Beer sy verskyning vir die derde toets maak, het die Bokke met 35-16 gewen.

Jenkins (regs) vier saam met Martin Johnson (middel) en Jeremy Guscott nadat die Leeus 1997 se reeks in Durban met akkurate skopwerk beklink het. Foto: Getty Images

“Ek sê altyd dat, meer dikwels as nie, stelskopwerk die beslissende faktor in ’n Leeus-reeks gaan wees,” het Jenkins vandeesweek met sy aanstelling in die pos gesê.

“Jy moet jou beste stelskoppers op die toer hê. Om dié reeks te wen, gaan jy goed moet skop.”

Hy voeg by dat spelers wat die bal uit hul eie gebied deur die pale kan skop, dalk in die binnebaan kan wees wanneer die Leeus se groep van 36 gekies word.

Neil Jenkins (links), die Britse en Ierse Leeus se skopafrigter, saam met die Ierse losskakel Jonathan Sexton op 2017 se toer na Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

“Die ouens wat aanhoudend goed skop sal ’n groot rol hê. As jy kyk na die laaste toets in 2017 (teen Nieu-Seeland) wat met 15-15 geëindig het, het ons met vyf stelskoppe geslaag.

“Leigh (Halfpenny) het in 2013 (teen Australië) in die laaste toets ook baie goed geskop,” sê Jenkins.

“Natuurlik mik ons vir drieë, maar die werklikheid is dat dit nie altyd realiseer nie en dat dit soms op stelskopwerk neerkom.”

Benewens die afrigting van die Leeus se stelskoppers, sal Jenkins verantwoordelik wees om ’n taktiese skopplan in werking te stel.

“Ons wil hardlooprugby speel, maar in vandag se spel gaan jou skopwerk hand aan hand met jou aanval,” sê hy.

“ ’n Leeus-toer kom egter dikwels neer op stelskopwerk en daar is by my geen twyfel dat hierdie toer geen uitsondering gaan wees nie.”

Dis met dit in gedagte dat die Leeus se afrigtingspan nie sal skroom om ’n “ou man” soos die Ierse losskakel Jonathan Sexton te kies nie.

Die immergroen Jonathan Sexton maak gereed om pale toe te korrel. Foto: Getty Images

Sexton sal op 11 Julie – ’n dag ná die Leeus se derde toerwedstryd teen die Haaie in Durban – sy 36ste verjaarsdag vier.

“Hy is ’n fantastiese speler vir Ierland en Leinster en was dit ook al vir die Leeus,” sê Jenkins oor Sexton, wat op die Leeus se laaste twee toere in al ses hul toetse gespeel het.

Boonop het hy 99 toetse vir Ierland op sy kerfstok. In die vyf toetse wat hy teen Suid-Afrika gespeel het, was hy drie keer aan die wenkant.

“Ouens soos hy en Alun Wyn Jones, wat ook 35 is, raak net al hoe beter. Dis ongelooflik wat hulle doen, veral gegewe die eise wat die moderne spel stel. Dit verras my geensins dat Jonny die deur oopskop om ’n plek in die Leeus-groep nie.”

Steyn vier Suid-Afrika se reekssege oor die Leeus in 2009 ná die tweede toets op Loftus Versfeld. Foto: Getty Images

Met daardie perspektief in gedagte maak dit skielik sin dat die 36-jarige Steyn verlede week glo by ’n Springbok-belyningskamp betrek is.

Hy spog met ervaring van 66 toetse waarin hy met 154 strafdoele, 102 doelskoppe en tien skepdoele geslaag het. Boonop weet hy wat dit verg om die Leeus te klop.

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, het waarskynlik beter opsies vir die nr. 10-trui, met Handré Pollard, Elton Jantjies en Curwin Bosch tot sy beskikking, maar ’n mens weet nooit hoe die sterre gaan belyn nie.

Op 11 Julie gaan Steyn immers presies ’n jaar ouer as Sexton wees. En 37 is mos maar net ’n nommer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.