Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skosan se reis bereik toppunt

Soos talle van sy nuwe Springbok-spanmaats, moes Courtnall Skosan eers ’n bietjie oor die Suid-Afrikaanse rugbylandskap reis voordat hy op die snelweg na sukses kon kom.

Courtnall Skosan staan Donderdag die media te woord nadat hy by Allister Coetzee, die Bok-breier, se eerste span van die jaar ingesluit is. Foto: Gallo Images

En sy reis bereik Saterdag ’n prentjiemooi bestemming wanneer dié 25-jarige vleuel sy buiging in die Groen-en-Goud op Loftus Versfeld teen Frankryk maak.

“Loftus was vir vier jaar lank my tuiste, ek het baie van my rugby hier leer speel. So dit is tog spesiaal om my buiging op Loftus te maak,” sê Skosan.

Hy het sy junior rugby van 2010 af vir die Blou Bulle gespeel voordat hy hom in 2014 by die Leeus aangesluit het.

“Maar dit is net spesiaal vir my om my buiging te maak, of dit nou op Loftus of Nuweland is. Om deel van die Springbokke te wees, is nie iets wat net sommer gebeur nie. Voor Saterdag was daar nog net 881 ouens wat vir die Bokke gespeel het. So dit is baie spesiaal vir my,” sê hy.

Andries Coetzee, die Leeus-heelagter wat ook die naweek sy Bok-buiging maak, is nog ’n speler wat nie tot sy reg kon kom by die Bulle nie, maar floreer by die Leeus.

Skosan het nie veel speelkans by die Bulle gekry nie, maar ’n Leeus-span sonder Skosan op vleuel het onlangs bykans ondenkbaar geraak.

“Ek het baie geleer as ’n rugbyspeler. Daar was baie mense wat baie werk ingesit het om van my ’n beter speler te maak en ek sal altyd aan my eie spel bly werk.

“Dit was ’n spesiale reis. God het die deur vir my oopgemaak om Leeus toe te gaan en dié span het my soos ’n handskoen gepas,” sê Skosan.

Die feit dat daar Saterdag sewe Leeus in die Bok-beginspan is, is ’n getuigskrif van die harde werk wat die spelers en die afrigters van dié span doen.

Dit is ongelooflik om te dink ek gaan saam met spelers uitdraf wat ek so lank in die Bok-trui dopgehou het.
Courtnall Skosan

“ ’n Paar jaar gelede was Marnitz Boshoff die enigste Leeu wat ’n Bok geword het. Toe het ons almal besef dit is moontlik.”

Sy senuwees baat ook by die feit dat verskeie van sy Superrugby-spanmaats, insluitend die agtsteman en kaptein, Warren Whiteley, saam met hom op die veld sal wees.

“Dit help beslis, ons kom al ’n lang pad saam. Ek is gewoond aan daardie ouens se speelstyl.

“Maar daar is baie spesiale spelers in dié span. Dit is ongelooflik om te dink ek gaan saam met spelers uitdraf wat ek so lank in die Bok-trui dopgehou het,” sê Skosan.

Hy glo ook nie die Bokke se nagmerrie-seisoen van 2016 sal enige letsels laat nie.

“Ons los dit in die verlede, daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Ons kan net op die veld gaan en ons beste gee.”

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Hane  |  Frankryk  |  Bokke  |  Courtnall Skosan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.