Weens vier positiewe gevalle van Covid-19 in die rugbykamp van die Skotse klubrugbyspan Glasgow Warriors is hul Pro14-wedstryd teen Edinburgh tot ’n latere stadium uitgestel.

Die rugbyspanne van Edinburgh en die Glasgow Warriors toe hulle vroeër slaags was in die Skotse hoofstad. Foto: Getty Images
Die twee spanne was veronderstel om op 27 Desember in Glasgow teen mekaar te staan te kom.
Nie minder nie as 20 spelers van Glasgow moes in isolasie gaan ná ’n uitbreek van die koronavirus in die geledere van Exeter Chiefs, ’n Engelse klubspan, teen wie hulle verlede naweek in ’n kragmeting in die Kampioenebeker gespeel het.
Glasgow se Kampioenebeker-wedstryd teen Lyon, wat Saterdag moes plaasvind, is reeds gekanselleer, met die Franse span wat ’n oorwinning van 28-0 gekry en boonop vyf punte ryker is.
Volgens ’n verklaring van Glasgow sal daar gekyk word na moontlike datums om die wedstryd vroeg in 2021 te beslis. In dié stadium het die positiewe gevalle nie ’n impak op die tweede kragmeting tussen Glasgow en Edinburgh wat vir 2 Januarie op Murrayfield geskeduleer is nie.
Glasgow bevind hom in die voorlaaste plek op die Pro14-puntelys in konferensie A, met 10 punte ná agt wedstryde. – Reuters, Sportredaksie