Skotland sal sonder die dienste van Adam Hastings wees vir sy wedstryde teen Ierland en Italië in die Sesnasies-reeks nadat dié losskakel vir drie wedstryde geskors is.

Skotland se Adam Hastings gaan drie wedstryde misloop. Foto: Getty Images
Hastings (24) is die afgelope Sondag in die Pro14-wedstryd tussen sy klubspan, die Glasgow Warriors, en Leinster met ’n rooikaart van die veld gestuur.
Die Skot se oortreding was dat sy stewel die gesig van Leinster se vleuel Cian Kelleher geraak het toe hy ’n bal in die lug bemeester het.
Die Glasgow Warriors het die wedstryd met 21-40 verloor.
’n Tugkomitee het versagtende omstandighede in ag geneem en die skorsing slegs vir drie wedstryde gemaak. Van die faktore wat in Hastings se guns getel het, is dat hy erken het dat hy hom aan vuilspel skuldig gemaak het en dat hy berou getoon het.
Hastings het ook Skotland se Sesnasies-kragmetings teen Engeland en Wallis misgeloop toe hy weens besering langs die kantlyn was.
Hy is egter nadergetrek vir die wedstryd teen Frankryk in Parys. Die wedstryd, wat verlede week moes plaasvind, is egter uitgestel nadat die koronavirus in die Hane se kamp uitgebreek het.
Die Skotte bevind hulle tans in die voorlaaste posisie op die punteleer van die Sesnasies. Hulle is gasheer vir Ierland op 14 Maart, en pak Italië ses dae later ook in Edinburg. – Reuters