Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Skrap’ ranglys en ‘help’ Bokke, vra Foster
Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, en sy spanmaats toe hulle die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan gewen het. Foto: Getty Images

Die All Black-afrigter se oplossing vir vrese dat die Springbokke vanweë die nagevolge van die Covid-19-pandemie hul status as die voorste rugbyland in die wêreld kwyt kan wees, is dat Wêreldrugby vanjaar wegdoen met sy ranglys.

Daar is onlangs aangekondig dat die Rugbykampioenskap, wat tussen Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië beslis word, in November en Desember gespeel sal word.

Maar daar heers steeds onsekerheid of die Springbokke daaraan sal deelneem, deels omdat plaaslike rugby in Suid-Afrika nog nie hervat het nie. In Nieu-Seeland en Australië, wat gasheer vir die kampioenskap gaan wees, word daar egter al maande lank rugby gespeel.

Sou die Bokke wel deelneem, gaan hulle waarskynlik nie op gelyke voet met die All Blacks en Wallabies kan meeding nie. Dit, glo sommige kenners, kan hul reputasie as wêreldkampioen skaad, terwyl hulle ook die eerste plek op Wêreldrugby se ranglys kwyt sal wees.

Dít sal dan weer die loting vir die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2023 beïnvloed.

Wynand Claassen, ’n voormalige Springbok-kaptein, het hom onlangs tydens ’n onderhoud sterk teen die nasionale span se deelname aan die Rugbykampioenskap uitgespreek.

Maar Ian Foster, afrigter van die All Blacks, dink nie vrese oor ’n span se plek op die ranglys behoort die Suid-Afrikaners te keer om deel te neem nie.

Ian Foster, afrigter van die All Blacks. Foto: Gallo Images

“Ek hoor praatjies van ’n voormalige kaptein van Suid-Afrika dat die Springbokke nie moet deelneem nie, omdat hulle hul plek op die ranglys en hul reputasie kan kwyt wees,” sê Foster, volgens stuff.co.nz.

“Wel, kom ons doen vanjaar weg met die wêreldranglys. Wie gee regtig om? Dit is nou belangriker dat ons terug op die veld kom en internasionale rugby speel, wat mense kan geniet.

“Natuurlik wil ons wen en die voorste span wees, maar ek sal dit haat as klein dingetjies soos dit ons verhoed om internasionale rugby te speel.”

Foster het benadruk dat daar behalwe vir die inkomste wat die Rugbykampioenskap vir die Nieu-Seelandse Rugbyunie in die sak sal bring, ook ’n ander belangrike aspek is.

“Uit ’n nasionale perspektief is dit net so belangrik. Toetse van die All Blacks is iets waarna uitgesien word. Dit hang van die publiek af hoeveel hulle dit geniet, maar vir ons is dit ’n goeie geleentheid om ons land te verteenwoordig, in ’n baie moeilike jaar.”

• Nog drie spelers van Argentinië se rugbyspan, wat tans voorberei vir die Rugbykampioenskap, is intussen ook positief vir Covid-19 getoets.

Julian Montoya, Sebastian Cancelliere en Domingo Miotti is almal asimptomaties, maar sal in isolasie bly totdat hulle weer negatief toets. Slegs 33 spelers uit ’n oorspronklike groep van 45 kan tans aan oefeninge deelneem. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Bokke  |  Nzr  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Ian Foster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.