Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skryf eerder 2020 vir Bokke af, sê Claassen

Moenie die Springbokke se reputasie in 2020 op die spel plaas nie.

Dit is nie net die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, wat onrustig is oor die plan om vanjaar se Rugbykampioenskap in November en Desember in Nieu-Seeland te hou nie.

“Nee, geen manier nie. Ons is die wêreldkampioen en het verlede jaar ook die Rugbykampioenskap gewen.

Jacques Nienaber, wat by Rassie Erasmus as hoofafrigter van die Springbokke oorgeneem het. Foto: Getty Images

“Dit sal regtig jammer wees as ons weer ’n helse drag slae teen die All Blacks kry en boonop teen die Wallabies, wat maar treurig is, verloor weens swak voorbereiding,” sê Wynand Claassen, voormalige Bok-kaptein.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het verlede week gesê die Bokke se welstand en gereedheid om teen November toetsrugby te speel, sal teen kommersiële gewin opgeweeg word.

Claassen sê Saru moet standpunt inneem oor die kwessie en nie die Bokke in die steek laat nie.

“Die pandemie (Covid-19) het alles negatief beïnvloed. Skryf 2020 af en laat die Springbokke weer volgende jaar speel,” is Claassen se pleidooi.

Die voormalige Springbok-afrigter André Markgraaff sê die probleem is daar is steeds nie sekerheid oor wanneer daar weer in Suid-Afrika rugby gespeel kan word nie.

“Ek dink ons moet die voordeel van ’n sterk Curriebeker-kompetisie oor ’n dubbelronde nie onderskat nie.

Die groot vraag is of ons genoeg tyd gaan hê vir die Curriebeker-reeks om momentum te kry voordat die Springbokke vir ’n oefenkamp bymekaar moet kom.
André Markgraaff

“Die Nieu-Seelandse kompetisie (die Aotearoa-reeks) lewer beter rugby as toe die Kiwi-spanne teen mekaar in die Superreeks gespeel het.

“Dit is uitstekende rugby en die intensiteit is hoog. Dit sal natuurlik later oorvloei na die All Blacks toe.

“Die groot vraag is of ons genoeg tyd gaan hê vir die Curriebeker-reeks om momentum te kry voordat die Springbokke vir ’n oefenkamp bymekaar moet kom.”

Buiten die voordeel van ’n “tuis-Rugbykampioenskap”, is Ian Foster, die All Black-breier, in die gunstige posisie dat elke naweek se Aotearoa-wedstryde as’t ware proewe is.

Nienaber het nie daardie luukse nie met net agt spelers uit die Bokke se 23-tal verlede jaar in die Wêreldbeker-toernooi, wat vroeër vanjaar Superrugby gespeel het.

Daar is ’n kommersiële aspek, maar ons kan ook nie die Springbokke en die land in die steek laat, met onvoldoende voorbereiding daar aankom en weer met 0-57 verloor nie.
Jacques Nienaber

Die meeste van die senior spelers, soos Willie le Roux, Damian de Allende, Jesse Kriel, Handré Pollard, Faf de Klerk, Lood de Jager en Eben Etzebeth speel in Japan, Engeland of Frankryk, waar plaaslike kompetisies weens die koronavirus ook nog nie hervat is nie.

Nienaber het aan Rapport gesê daar is sleutelvoorwaardes vir Suid-Afrika se deelname aan die kampioenskap.

“Daar is ’n kommersiële aspek, maar ons kan ook nie die Springbokke en die land in die steek laat, met onvoldoende voorbereiding daar aankom en weer met 0-57 verloor nie,” het Nienaber gesê.

Die Springbokke het in 2017 – in die Allister Coetzee-era – met dié telling in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks in Nieu-Seeland slae gekry.

Claassen sê dit kan weer die Bokke se voorland wees as Nienaber-hulle oorhaastig moet voorberei.

“Moenie die uitstekende werk van Rassie (Erasmus, die vorige afrigter) die afgelope twee jaar ongedaan maak nie.”

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Jacques Nienaber  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.