Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Brumbie-blitzkrieg gee ons g’n kans'

Die Brumbies het die Haaie gister in Canberra twee keer met dieselfde slenter uitgevang en sodoende hul Superrugby-drome beëindig.

Só sê die Haaie se afrigter, Robert du Preez, nadat die Brumbies se oorwinning van 38-13 in die kwarteindstryd in baie opsigte ’n weerspieëling van die Durbaniete se treurmare regdeur die afgelope seisoen was.

Uit my pad!! Tevita Kuridrani (regs) stamp Sbu Nkosi (Haaie) uit sy pad. Foto: Getty Images

Die tuisspan was blitsvinnig uit die blokke en het drie drieë – die eerste daarvan binne 53 sekondes – in die eerste 23 minute gedruk.

“Daardie blitsdrieë het ons onmiddellik op die agtervoet gesit, en dis bitter moeilik om van so ’n agterstand af terug te kom,” het Du Preez telefonies uit Australië laat weet.

Die gemak waarmee die Brumbies deurgebars het in die middelveld vir hul eerste twee drieë, het die Haaie se verdediging kwaai blootgestel.

Eienaardig genoeg, het Du Preez-hulle vanjaar die derde minste drieë (39) ná die Crusa- ders (31) en Jaguares (38) afgestaan.

“Ons het bloot te stadig gereageer en die Brumbies het ons twee keer ná mekaar met presies dieselfde slenter uitgevang,” het Du Preez opgemerk.

“Dit is iets wat hulle vooraf opgetel en deeglik uitgebuit het. Ons was bewus daarvan dat hulle die meeste van hul drieë van die tweede fase af druk en hulle het die bewegings baie goed uitgevoer.

“Op so ’n aand, as ’n mens so ’n goeie aanval teen jou het, is dit wat gebeur; jy kan nie bekostig om foute te begaan nie.”

Die ironie van gister se kwarteindstryd was dat die Haaie sowat 70% van die balbesit gehad het, maar steeds net ’n enkele drie, deur André Esterhuizen, teen die vyf van die tuisspan kon druk.

Dit was weer ’n vingerwysing na hoe die Haaie vanjaar gesukkel het om die doellyn oor te steek. Hulle het op twee na die minste drieë (40) in 2019 gedruk, met net die Stormers en Sun­wolves (albei 34) wat minder as die Haaie gedruk het.

Die Haaie het vroeg in die eerste helfte, en weer ná rustyd, verbete teruggeveg om die rustyd-agterstand van 6-24 te probeer uitwis.

Hulle het die bal gereeld deur veelvuldige fases gevat, net om telkens besit in kontak te verloor.

“Maar ek moet byvoeg dat die manne tot die einde toe hul heel beste gelewer het.”

Die groot verskil tussen die spanne was inderdaad geduld – geduld op die verdediging, maar ook veral op die aanval.

“As ’n mens kyk na die statistieke het ons beslis genoeg besit gehad,” het Du Preez erken.

“Die ouens het hard probeer om die Brumbies se verdediging af te breek met ons aanval, en ons was ’n paar keer ook ongelukkig. Ons het ’n paar goeie strafskoppe afgedwing, maar twee van ons rolmaalbewegings het misluk; dit het nie goed gewerk nie.”

Voorlangs het die Durbaniete ongetwyfeld tweede viool gespeel, met veral Coenie Oosthuizen wat gesukkel het op vasskop en ’n paar strafskoppe in die skrums afgestaan het.

Die besoekers was verder ontwrig nadat hulle twee hardwerkende voorspelers, Dan du Preez (ribbes) en Tyler Paul (skouer), in die eerste kwartier verloor het – tesame met die feit dat hulle reeds sonder staatmakers soos Beast Mtawarira, Akker van der Merwe, Ruan Botha, Jean-Luc du Preez en Philip van der Walt moes klaarkom.

“Ek sal graag weer na daardie skrums wil kyk,” sê Du Preez. “Maar die Brumbies het die hele jaar lank in die skrums oorheers en dis die prentjie wat die skeidsregter gesien het.”

Wat die toekoms vir Du Preez en die Haaie inhou, sal waarskynlik oor die volgende paar weke duidelik word, maar daar is darem ’n paar positiewe wat hulle uit vanjaar se veldtog kan neem.

“ ’n Mens moet onthou dat ons geweldige ervaring ingeboet het met al die voorspelers wat op die krukkelys is. Die ouens wat hulle skoene volgestaan het, het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Ouens soos Mzamo Majola, Kerron van Vuuren, Ruben van Heerden, Hyron Andrews en Jacques Vermeulen,” sê Du Preez.

  • Punte:

BRUMBIES 38: Drieë: Samu (2), Speight, Powell, LucasDoelskoppe: Christian  Lealiifano (5)Strafdoel: Lealiifano 

HAAIE 13: Drieë: André  EsterhuizenDoelskop:  Curwin BoschStrafdoele: Bosch (2)

Meer oor:  Haaie  |  Brumbies  |  Robert Du Preez  |  Canberra  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.