Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Slotkrisis: Lood hoopvol en RG oefen weer

Lood de Jager is vasbeslote om teen die Britse en Ierse Leeus te speel en RG Snyman gaan moontlik volgende week voluit saam met Munster begin oefen.

Dit is die jongste nuus oor die Springbokke se dreigende slotkrisis voor die toetsreeks teen die Leeus.

Lood de Jager het nie die hoop laat vaar om teen die Britse en Ierse Leeus te speel nie. Foto: Getty Images

De Jager het onlangs in ’n oefening van die Sale Sharks in Engeland sy been gebreek en ’n knieskyf beseer.

Toulon, Eben Etzebeth se Franse klub, het boonop verlede week aangekondig dié ervare Springbok-slot het ’n vinger gebreek en sal “verskeie weke” uit aksie wees nadat hy ook geopereer is.

Alex Sanderson, afrigter van Sale, sê De Jager is vuur en vlam om in Julie en Augustus teen die Leeus te speel.

Die 28-jarige oud-Bul en -Cheetah het op krukke by die AJ Bell-stadion in Manchester aangekom twee dae nadat hy onder die mes was.

De Jager wou so gou moontlik met sy rehabilitasie begin en hy sal nie verras wees as hy wel betyds herstel voor die Leeus-toer nie, sê Sanderson.

Die Sharks-breier sê De Jager het selfs voor die tyd sy chirurg versoek “om sy beste operasie tot nog toe” uit te voer.

Pleks van om terug te keer Suid-Afrika toe om tyd saam met sy familie deur te bring, het hy sy gesin huis toe gestuur sodat hy volstoom kan begin met sy rehabilitasie.

“Hy verbaas my deurgaans. Ek het gesê hy moet by die huis gaan aansterk, want hy het lanklaas sy ouers gesien.

“Ná so ’n groot besering wil jy die eerste ruk tussen jou geliefdes wees. Hy wou niks hiervan weet nie.”

Was dit nie vir die skeur wat hy in sy knieskyf opgedoen het nie, sou De Jager tussen ses en agt weke uit gewees het.

“Ons kyk nou na sowat 12 weke. Hy sal nie weer dié seisoen speel nie, maar daar is ’n kans vir die voorseisoen.

RG Snyman en Eben Etzebeth nadat die Springbokke in 2019 die Wêreldbeker in Japan verower het. Foto: Getty Images

“Enige ander speler sou dit (die toetsreeks teen die Leeus) sekerlik nie gemaak het nie, maar dis Lood de Jager dié,” sê Sanderson.

Graham Rowntree, Munster se voorspeler-afrigter, het intussen gesê Snyman, wat in Augustus verlede jaar in sy debuut vir dié Ierse klub ’n ernstige kniebesering opgedoen het, lyk “groot, fiks en vreesaanjaend”.

Munster het aangedui Snyman is in die laaste fase van sy lang rehabilitasie-program.

“Hy het nie kleiner geword nie, dit is gewis. Hy pas lekker in en het al deelgeneem aan van ons skrumsessies. Nie agt-teen-agt nie, hy maak ook nog nie kontak nie.

“Ons sal kyk hoe hy reageer op elke nuwe vlak met sy terugkeer. Daar word goed na sy welstand omgesien en hy lyk fiks, groot en vreesaanjaend.

“Ons is verheug dat hy hopelik volgende week voluit saam sal kan begin oefen.”

Dit is nog nie duidelik wat Etzebeth se prognose is nie. Hy het wel op ’n podsending gesê hy verwag om volgende maand (Mei) weer in die Franse Top14 te speel.

Volgens Etzebeth was dit ’n fratsongeluk (hy het man en bal gelyk gekry tydens ’n oefening) en het die gebreekte beentjie deur die vel gesteek.

Bronne: rugbypass.com, irishexaminer.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.