Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Slotte hou Vrydag sleutel vir WP
Die Westelike Provinsie se kaptein en een van vyf slotte in die 22-tal, Chris van Zyl, in aksie by Woensdag se oefensessie op Nuweland. Van Zyl en sy troepe pak die Goue Leeus Vrydag in ’n Curriebeker-wedstryd op Ellispark in Johannesburg.Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie het “vyf” slotte gekies om die Goue Leeus se lynstane te ontwrig in Vrydag se Curriebeker-rugbywedstryd op Ellispark in Johannesburg.

Al drie die Streeptruie se losvoorspelers – Rynhardt Elstadt, Jurie van Vuuren en Kobus van Dyk – is vroeër in hul loopbane al as slotte ingespan.

Elstadt (1,93 m) is buiten die voorry die kortste man in die WP se agttal. Van Dyk en Van Vuuren is onderskeidelik 1,96 en 1,94 m lank. Die slotte Chris van Zyl en Jan de Klerk is albei 1,98 m.

Van Zyl, die WP se kaptein, het bevestig dat daar by elke geleentheid op die Leeus se ingooie by die lynstane meegeding gaan word.

“Ons het baie goeie opsies in die lynstane en dis belangrik dat ons die Leeus op hul ingooie ontwrig. Dit kan deurslaggewend wees,” het Van Zyl gesê.

Dit kan straks ook ’n poging wees om die Leeus se groentjie-slot JP du Preez te ontsenu. Du Preez is 2,09 m lank, wat hom ’n ongelooflike teenwoordigheid in die lynstane sal gee.

Ondanks al die “slotte” in sy span, het die WP se breier, John Dobson, die keur van sy hemelbesems – JD Schickerling – aan ’n skouerbesering afgestaan.

Met dié dat Dobson in Mike Willemse ook ’n nuwe haker gekies het in die plek van die beseerde Scarra Ntubeni, kan daar ook nie verwag word dat als sommer net klopdisselboom op hul ingooie gaan verloop nie.

Willemse het Dinsdag weer by die WP ingeskakel nadat hy aan die OP-Kings geleen was. Die ander twee senior hakers in die WP se groep, Neil Rautenbach en Martin Ferreira, is leenspelers van onderskeidelik die Vrystaat-Cheetahs en Kings.

“Mike het puik rugby vir die Kings gespeel. Hy was besonder goed in hul wedstryd teen die Blou Bulle en ook teen ons toe hy ’n punt wou bewys. Hy ken al ons tekens en is ’n baie gewilde ou in die span. Dit was ’n maklike keuse,” het Dobson gesê.

Die keuse van al die “slotte” het Dobson twee losvoorspelers op die plaasvervangersbank laat kies, Jacques Vermeulen en Eital Bredenkamp.

“Ons verwag dat die wedstryd in ’n vinnige tempo gespeel gaan word en die Leeus gaan poog om ons teen einde met spoed te klop,” het Dobson gesê.

“Die Leeus het in Kwagga Smith ’n plaasvervanger wat uiters vinnig en goed by die afbreekpunte is. Eital en Jacques is albei vinnig.”

Hy ag Stefan Willemse ongelukkig dat hy nie in die 22-tal is nie, maar meen hy maak tegnies die korrekte besluit.

“Die balans van ons lostrio is vir ’n geruime tyd al ’n gesprekspunt. Stefan is ’n goeie fisieke losvoorspeler, maar ons streef die regte balans na,” het Dobson gesê.

* Die WP-span is: Cheslin Kolbe, Werner Kok, EW Viljoen, Johnny Kotze, Leolin Zas, Robert du Preez, Jano Vermaak, Kobus van Dyk, Jurie van Vuuren, Rynhardt Elstadt, Chris van Zyl (k), Jan de Klerk, Wilco Louw, Michael Willemse, JC Janse van Rensburg. PLAASVERVANGERS: Neil Rautenbach, Ali Vermaak, JP Smith, Jacques Vermeulen, Eital Bredenkamp, Dewaldt Duvenage, Scott van Breda.

Meer oor:  Leeus  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.