Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sluier oor Kampioenskap Vrydag gelig
Die Blues-vleuel Caleb Clarke in aksie vir die Noord-span in Saterdag se plaaslike Noord-Suid-wedstryd in Nieu-Seeland. Clarke tel onder die sewe nuwelinge in die All Black-groep.Foto: Getty Images

Daar behoort teen Vrydag sekerheid te wees oor Suid-Afrika se deelname aan vanjaar se Rugbykampioenskap, al dan nie.

Luidens ’n berig in die New Zealand Herald vergader Sanzaar-base Donderdag om op toetsdatums vir die res van dié jaar te besluit. ’n Amptelike aankondiging word Vrydag verwag.

Die oorspronklike plan met Wêreldrugby se toetsventer was vir die Rugbykampioenskap om van 7 November tot 12 Desember te strek, maar daardie datums sal dit baie moeilik vir die Springbokke maak om ’n mededingende span in die veld te stoot.

Jacques Nienaber, die Bokke se afrigter, wil graag sien dat Suid-Afrika se spelers minstens ses provinsiale wedstryde agter die rug het alvorens hy hulle as slaggereed sal beskou vir wedstryde teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië.

Met dié dat die plan is vir die ganse toernooi om in Nieu-Seeland gespeel te word, sal die Bokke ook vir twee weke in kwarantyn moet wees voordat daar op 7 November gespeel kan word.

Dan was daar tot nou nog nie ’n amptelike aankondiging oor wanneer daar plaaslik weer rugby gespeel gaan word, en presies hoe die kompetisie-struktuur gaan lyk nie.

Die verwagting is dat die eerste wedstryde aan die einde van die maand kan afskop en dat ’n kampioen in Januarie gekroon sal word, maar die situasie is vloeibaar. In ieder geval sal dit nie naastenby aan Nienaber se vereistes voldoen indien die meerderheid van Springbokke slegs ’n paar wedstryde speel voor hulle na Nieu-Seeland moet vertrek nie.

Die Rugbykampioenskap is van kardinale belang vir Suid-Afrikaanse rugby se finansiële welstand, maar ’n sterk plaaslike kompetisie waarin die Bokke speel, blyk die mees realistiese uitkoms te wees.

Bautista Delguy, vleuel van die Poemas, tel onder ses Argentynse spelers wat positief getoets is vir die koronavirus. Al ses is asimptomaties.Foto: Getty Images

SuperSport, wat in Suid-Afrika die regte hou om Sanzaar se kompetisies uit te saai, voel teen hierdie tyd ook al saam die pyn en sal heel te verstane hoop dat iets gedoen kan word om die Bokke in die prentjie te bring.

Heel moontlik lê Suid-Afrika se heenkome in die Noordelike Halfrond, nadat Bernard Laporte, vise-president van die Sesnasies-reeks, verlede week onthul het dat daar met Suid-Afrika onderhandel word vir deelname aan ’n Agtnasies-toernooi, wat die plek sal neem van die tradisionele toere in November.

Datums is egter onbekend en dit kan wees dat die Bokke ewe min aan Nienaber se vereistes sal voldoen as wat die geval met ’n Rugbykampioenskap sou wees.

Enige kompetisie waarop besluit word, bly egter ook baie kwesbaar vir die moontlikheid dat spelers positief kan toets vir Covid-19.

Daardie punt is die afgelope naweek geïllustreer toe die Argentynse Rugbyunie bekend gemaak het dat ses spelers by ’n Poema-oefenkamp positief getoets is vir die koronavirus. Hulle is Juan Cruz Mallía, Emiliano Boffelli, Bautista Delguy, Rodrigo Fernández Criado, Bautista Pedemonte en Lucas Bur.

Uiteindelik kan dit wees dat die Rugbykampioenskap op niks meer as ’n stryd om die Bledisloebeker tussen Nieu-Seeland en Australië neerkom nie.

• Intussen is daar sewe nuwelinge – Caleb Clarke, Will Jordan, Alex Hodgman, Quinten Strange, Tupou Vaa’i, Cullen Grace en Hoskins Sotutu – in ’n All Black-groep van 35 vir November se toernooi.

Al 35 kssd egter na hul provinsies toe terug om in ’n plaaslike provinsiale reeks te speel.

“Ons is uiters hoopvol vir toetse teen Australië en verder as dit sal ons moet wag en sien. Intussen is ons in die gelukkige posisie dat ons die spelers kan terugstuur om in die Mitre 10-beker te speel,” sê Ian Foster, die All Blacks se afrigter.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  All Blacks  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.