Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Small se lewe soos sy loopbaan – te gou verby

Oor James Small die mens is daar uiteenlopende menings, maar almal met wie hy paaie op ’n rugbyveld gekruis het, is dit eens: Hy was ’n wenner.

Of dit nou in die kleure van Natal, die Westelike Provinsie op Transvaal was, Small het gespeel soos hy geleef het: met sy hart op sy mou.

James Small maak reg om die reusagtige All Black-vleuel Jonah Lomu te duik in 1995 se Wêreldbeker-eindstryd op Ellispark in Johannesburg. Foto: Getty Images

In 1995 se Wêreldbeker (WB)-eindstryd het hy dit met Joost van der Westhuizen en Japie Mulder uitgespook om voor in die ry te staan om die “onstuitbare” All Black-vleuel Jonah Lomu te lak.

Soos ’n Engelse koerant dit destyds voor die eindstryd met sy opskrif opgesom het: “Lomu has a Small problem”.

Profetiese woorde.

Ons kan nie almal in ’n blik gedruk word nie. Die spel het karakters nodig.
Gary Teichmann

Die eindstryd, waarin Lomu sy regstreekse teenstander was, was die hoogtepunt van ’n loopbaan waarin Small kortstondig die voorste driedrukker in die geskiedenis van Springbok-rugby was.

Hy het in sy laaste toets vir die Bokke – die rekordsege van 68-10 oor Skotland op Murrayfield in 1997 – sy 19de en 20ste drieë aangeteken om die legendariese Danie Gerber verby te steek. Sy eerste toetsdrie was in 1992 in ’n oorwinning van 20-15 oor Frankryk in Lyon.

Small het 1997 as die voorste toetsdriedrukker in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby afgesluit. Hy is in 1998 deur Joost van der Westhuizen verbygesteek. Foto: Getty Images

Small was in sy laaste toets nog net 28 jaar oud, maar dis welbekend dat sy eskapades van die veld af hom nie altyd ’n gunsteling onder afrigters gemaak het nie. Ander het hom beter verstaan.

“Hy was vrygeestig,” het Gary Teichmann, Small se kaptein by die Bokke in 1997, gesê.

“Ons kan nie almal in ’n blik gedruk word nie. Die spel het karakters nodig.”

Dít was Small beslis – een van die laaste groot karakters in Suid-Afrikaanse rugby. Hoe verder ons in die beroepsera vorder, hoe minder ontbloot spelers hul siele.

Daardie probleem het Small nooit gehad nie en sy diep passie vir die spel was sigbaar toe hy in 1999 tranerig by Ellispark op 30-jarige ouderdom sy uittrede uit die spel aangekondig het. Ellispark was ’n gepaste plek om dié aankondiging te maak, want dit was by die destydse Transvaal waar hy as 19-jarige in 1988 sy provinsiale buiging op heelagter gemaak het.

Passie staan op Small se gesig geskryf in 1997 se Curriebeker-eindstryd in die kleure van die Westelike Provinsie. Foto: Getty Images

Tussendeur het Small met welslae vir Natal en die Westelike Provinsie gespeel, en albei provinsies gehelp om die Curriebeker te verower in ’n era waar dit nog as die kroonjuweel van Suid-Afrikaanse rugby gereken is.

Sukses was deur Small se loopbaan verweef. Hy het gehelp om die Natal die sogenaamde “span van die ’90’s” te maak en was ’n lid van die WP-span wat ’n goue generasie van jong spelers soos Bob Skinstad, Corné Krige, Robbie Fleck, Breyton Paulse en Percy Montgomery opgelewer het.

As ’n mens is Small deur baie as “kompleks” beskryf.

“James het baie vrae gehad oor die lewe en in daardie tydstip was baie van hulle onbeantwoord,” sê Hennie le Roux, wat saam met Small in 1995 se WB-eindstryd gespeel het.

Small se goeie deugde is egter deur elke oudspanmaat uitgelig met wie daar gepraat is. Hy was ondanks sy vurige beeld ’n man met deernis vir sy medemens en passievol oor die Bokke.

Hy sal wêreldwyd onthou word as een van die beste vleuels van sy generasie en, soos die geval was met sy loopbaan as ’n speler, het hy ons te gou gegroet.

Meer oor:  Gary Teichmann  |  Huldeblyk  |  Oorlede  |  James Small  |  Hulde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.