Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs het huiswerk gedoen

“Jou geveg is maar ’n interne een, jy moet eers in jou eie vermoëns glo voordat jy teen ander spanne kan wen en ek dink die Cheetahs het al ’n ver pad gekom om dit te doen.”

Dís die Cheetah-senter William Small-Smith (27) se filosofiese benadering tot Saterdag se Pro14-wedstryd teen Leinster in Ierland.

William Small-Smith beskik oor bedrieglike vaart soos die Southern Kings se losskakel Bader Pretorius onlangs in Bloemfontein uitgevind het. Foto: Gallo Images

Ná vier ontmoetings sedert die Cheetahs se toetrede tot die reeks in die 2017-’18-seisoen, het elke span twee gewen en twee verloor.

Small-Smith en sy spanmaats is deeglik daarvan bewus dat die Iere die seisoen nog onoorwonne is en ’n maklike wedstryd gaan dit gewis nie wees nie.

“As jy wil sien hoe goed Leinster werklik is, kyk maar na hul deelname aan die Europese Kampioene- en Uitdaagbeker-reeks.

“Uiteindelik kan ons net ons bes probeer en nie te veel oor hulle tob nie,” sê Small Smith uit Dublin, waar die Cheetahs voorberei vir Saterdag se stryd.

Small-Smith en Benhard Janse van Rensburg is die senter-kombinasie wat tot dusver die beste vir die Cheetahs werk, nadat hy aanvanklik op vleuel ingespan is.

Daarby voltooi die agterste driehoek ’n gedugte, aanvallende agterlyn en ryg hulle die drieë in. Dit gaan egter ’n poging deur al 23 spelers verg om Leinster te klop en Small-Smith is deeglik bewus daarvan.

“Jy kan dit óf as ’n uitdaging óf as ’n hindernis beskou. Ons wil dit graag as ’n uitdaging sien en is opgewonde daaroor.”Met 44 Pro14-wedstryde vir die Cheetahs agter die blad, het Small-Smith naas die kaptein, Ruan Pienaar, wat meer as 100 wedstryde vir Ulster gespeel het, die meeste ervaring in dié kompetisie – en hy is ook deel van die leierskorps in die groep.

Hy sê hy en Janse van Rensburg – 30 Pro14-wedstryde – kom goed oor die weg in die middelveld en hoop hulle kan daardie vennootskap Saterdag na die volgende vlak neem.

“Benhard het miskien nog nie so baie wedstryde (soos ek) gespeel nie, maar hy is koelkop met ’n ongelooflike rugby-intelligensie. Al wat hy Saterdag moet doen, is om voort te gaan met wat hy die laaste ruk op die veld gedoen het. Hy is regtig ’n speler van gehalte en dis lekker om langs hom te speel.

“Hy lees die spel baie goed en weet wanneer om die regte ding te doen en ek dink dis wat van hom so ’n goeie speler maak,” sê Small-Smith.

Maar waar dink hy gaan Leinster die Cheetahs teiken?

“Leinster speel teen ’n hoë tempo en hul taktiese skopwerk is gewoonlik van ’n hoë gehalte. Ons kan meer skoppe van agter die skrums en losgemale verwag, maar ek dink dit gaan vir die volgende drie weke so wees (teen Leinster, Ulster en die Dragons), want dis hoe hulle in die noorde speel.

“Dit maak uiteindelik nie vir my saak of jy by die huis of weg van die huis speel nie, as ek en my spanmaats saam op ’n veld is, dan is ek tuis.”

Meer oor:  William Small-Smith  |  Leinster  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.